Menlo skok Monnas, Garsies eindig eerste op punteleer
Terwyl Garsfontein op ’n drafstap eerste op die Virsekerbeker punteleer geëindig het, het hul bure van Menlopark ‘n skok-oorwinning oor een van die toernooi se gunstelinge behaal om ook vir die halfeindstyd te kwalifiseer.
Die Hoërskool Menlopark se eerste rugbyspan het die afgelope naweek baie karakter en durf gewys deur onder groot druk hul laaste Virsekerbeker ligabepaling teen Hoërskool Monument van Krugersdorp te wen.
Die eindtelling was 22-15 in Menlopark se guns en dié oorwinning was in meer as een opsig geskiedkundig vir die Pretorianers. Dit was, onder andere, Menlo se heel eerste oorwinning oor die Wes-Randers.
Sodoende het Menlo gesorg dat hulle vierde op die punteleer eindig, wat beteken dat hulle kwalifiseer vir eerskomende naweek se halfeindstryde.
Vir Monnas is hierdie nederlaag ’n groot slag, want daarmee het hulle ’n tuis halfeindstryd verbeur. Hulle sal nou eerskomende naweek na Helpmekaar Kollege moet reis om teen die Johannesburgers in die een halfeindstryd van dié gesogte toernooi se top liga te speel.
Helpmekaar het twee weke gelede reeds hul ligaverpligtinge voltooi en was voor die afgelope naweek slegs twee punte voor Monnas. Die seuns van Krugersdorp moes dus net ’n oorwinning oor Menlopark behaal om tweede op die punteleer te eindig.
Menlopark was egter onder selfs groter druk, aangesien hulle nog deur beide Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Dr. EG Jansen uitgeskakel kon word.
Die Klofies het die afgelope naweek wel met HTS Middelburg (36-31) afgereken, terwyl EG Jansen ook hul wedstryd maklik teen Noordheuwel (62-38) gewen het. Menlopark se skok-oorwining het dié twee teenstanders se oorwinnings egter ongedaan gemaak en albei sal toeskouers wees in die uitspeelfase van die liga.
– Die Parkies sal eerskomende naweek ’n soortgelyke vertoning moet opdis as hulle die eindstryd van die toernooi wil haal.
Hul teenstander in die Virsekerbeker halfeindstryd, Hoërskool Garsfontein, speel kookwater rugby in die peilvak van die toernooi en hulle het die afgelope naweek hul vyfde agtereenvolgende groot oorwinning behaal deur Transvalia met 72-22 te klop.
Die Garsies se Bere het in hul laaste vyf wedstyde vier vyftigtalle aangeteken, terwyl hulle Menlo ’n bietjie meer as twee maande gelede met 46-28 geklop het in die ligafase.
Met die tipe rugby wat Menlopark teen Monnas opgedis het, sal Saterdag se halfeindstryd egter ’n perd van ’n ander kleur wees en dit kan een van die beste Pretoria skole-derbies in ’n baie lang tyd wees.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.




