Menlo klop Garsies, ontmoet Helpies in Virsekerbeker eindstryd
Menlopark se eerste rugbyspan het eerskomende Saterdag die kans om geskiedenis te maak, nadat hulle Garsfontein die afgelope naweek geklop het om vir die Virsekekerbeker eindstryd te kwalifiseer.
Sewentien drieë en ’n totaal van 112 punte op die telbord.
Dít wat Saterdag se opwindende Virsekerbeker halfeindstryd tussen Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Menlopark se eerstespanne opgelewer het.
Daar sal diegene wees wat frons oor die verdediging van die twee spanne, want halfeindstryde is gewoonlik taai tweestryde waarin drieë skaars is. Dis beslis ’n geldige besprekingspunt wanneer hierdie wedstryd ontleed moet word. Die verdediging wás soms verdag aan albei kante. Maar op ’n manier spreek die telling ook boekdele oor twee spanne wat positiewe rugby gespeel het en aan die toeskouers ’n skouspel gelewer het wat nog lank onthou sal word.
Uiteindelik was Menlopark die span wat wéér verras het om elf drieë teen Garsfontein se ses te druk en met 72-40 te wen.
Sodoende het Menlo deurgedring na volgende week se eindstryd teen Helpmekaar Kollege van Johannesburg, wat ook verras het deur Hoërskool Monument van Krugersdorp in die ander halfeindstryd met 27-22 te klop.
Al eerskomende naweek se eindstryde sal op Hoërskool Marais Viljoen van Alberton se velde beslis word.
Terug by die naweek se skouspel op Berepark in Garsfontein. Voor hierdie wedstryd enigsins bespreek word, moet ’n mens die perspektief gee dat die Garsies weens SA Rugby se ontydige program die honger span van Menlo sonder vyf van hul ster-spelers moes aanpak.
Heelagter Zeilinga Strydom, vleuel Geraldo Flusk, skrumskakel Jurich Claasens, slot Raynard Roets en die sterk vaskopstut, Gerhard van der Merwe was almal die vorige dag in die Kaap in aksie vir die SA Skolespan en die SA Skole “A”-span, wat teen onderskeidelik Wallis en Frankryk gespeel het.
Aan die ander kant van die veld het Menlopark slegs hul sterk vleuel, Nsuku Baloyi, aan nasionale diens afgestaan.
Dit sal sekerlik kortsigtig wees om te wil beweer dat hierdie terugslag vir Garsfontein nié ’n invloed op die wedstryd gehad het nie. Dié span het in die ligafase slegs een wedstryd verloor (in Meimaand teen Monnas), maar hulle was skitterende op dreef en het veral ná die wintervakansie alle teenstand voor hul weggevee.
Daarenteen het Menlopark wisselvallig vertoon. Ná hul nederlaag teen Dr. EG Jansen (17-29) sowat drie weke gelede het Menlo egter skielik puik rugby begin speel en hulle het Monnas twee weke gelede verras (22-15) om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.
Behalwe vir die voordeel wat Menlo Saterdag gehad het om byna al hul beste spelers beskikbaar te hê, het hulle ook die regte strategie vir die wedstryd gehad.
Losskakel Marcelle Deysel was ’n ware generaal en loshande die speler van die wedstryd. Hy het veral in die eerste helfte die sterk wind van agter goed gebruik, terwyl sy balverspreiding en visie op die veld eersteklas was.
Menlo se twee flanke, Luan Potgieter en Tiaan Lange, het ook ’n reuse rol gespeel om Garsies by die afbreekpunte ore aan te sit. Dít het die tuisspan van baie momentum beroof.
Daarbenewens het Garsies gesukkel in die vaste skrums, waar Gerhard van der Merwe se afwesigheid ’n reuse verlies was.
Garsfontein moet egter krediet kry vir die wyse waarop hulle nooit ophou veg het nie. Elke keer as dit wou lyk om Menlo die wedstryd in die sakkie het, het Garsies daarin geslaag om terug te veg en weer binne bereik van hul teenstanders op die telbord te kom.
Eers in die laaste tien minute, het Garsies se stoom sigbaar opgeraak en Menlopark kon twee maklike drieë druk om die uitslag bo alle twyfel te stel.
Vir Menlopark beteken hul oorwinning die geleentheid om geskiedenis te maak. Ten spyte van die feit dat dié skool in hul 56-jarige bestaan nog altyd onder die top kompeteerders in ligas soos die Administrateursbeker, Direkteurstrofee, Beeldtrofee en nou die Virsekerbeker was, kon hul eerstes nog nooit enige van hierdie silwerware huis toe bring nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









