Menlopark maak geskiedenis met eerste groot rugbytrofee
Menlopark se eerste rugbyspan is die nuwe Virsekerbeker kampioen, nadat hulle met ‘n reuse terugvegpoging daarin kon slaag om Helpmekaar Kollege in die eindstryd te klop.
Hoewel die Hoërskool Menlopark vir dekades al regoor Suid-Afrika respek afdwing op die atletiekbaan, kon hul eerste rugbyspan om een of ander onverklaarbare rede nog nooit een van die groot skolerugby-toernooie wen nie.
Dié skool se eerstespan van 2019 het egter die afgelope naweek die rekordboeke herskryf toe hulle daarin geslaag het om as Virsekerbeker kampioen gekroon te word.
Hierdie oorwinning het die kroon gespan op ’n paar spannende en opwindende weke wat van die seuns van Menlo se eerstespan legendes in die skool se geskiedenis sal maak.
Hul vertoning oor die afgelope maand lees soos ‘n goeie filmdraaiboek. Nadat Menlopark op 27 Julie onverwags teen Dr. EG Jansen verloor het, was hulle met hul rug teen die muur. Die uitdaging was eenvoudig, maar enorm – klop Hoërskool Monument (een die gunstelinge in die toernooi) in die laaste ligabepaling en kwalifiseer vir die halfeindstryd, of verloor en word uitgeskakel.
Die Parkies se oorwinning oor Monnas het ’n opskudding veroorsaak, maar hulle is steeds nie veel van ’n kans gegun om die voorloper in die liga, Hoërskool Garsfontein, in die halfeindstryd te klop nie. Die Garsies was immers op ’n missie – terwyl hulle slegs een keer in die ligafase verloor het, het hulle toe reeds in vyf van hul ligawedstryde meer as vyftig punte aangeteken.
Hoewel Garsfontein erg verswak is deur die verlies van vyf sterre wat by die SA Skolespan betrokke was, is daar geen kantaantekeninge in die rekordboeke nie en dié sal net aandui dat Menlopark hierdie keer die span was wat die groot telling (72-40) kon aanteken om te wen en vir die eindstryd teen Helpmekaar Kollege te kwalifiseer.
Met dié oorwinning het Menlopark se eerstes van 2019 ook ’n droogte van agt jaar teen Garsfontein verbreek.
Die drama van hierdie filmdraaiboek was egter nog nie verby nie. In Saterdag se eindstryd het Menlopark se manne bewys dat die karakter wat hulle vertoon het in daardie laaste wedstryd van die ligafase teen Monnas, asook in verlede week se halfeindstryd elke keer as Garsies wou terugbons, nie toevallig was nie. Dié span kon daarin slaag om tot aan die bitter einde hul karakter te toon.
In Saterdag se eindstryd was daar sekerlik ’n paar ondersteuners van Helpies wat teen rustyd al die vreugdevure wou aansteek en die vonkelwyn proppe wou laat klap. Die Johannesburgers was immers met 17-10 voor op die telbord, terwyl hulle in daardie stadium beslis in beheer van sake op die veld was.
Toe skop Menlopark se reeds bewese karakter weer in en in die tweede helfte van dié eindstryd teken hulle 34 onbeantwoorde punte aan om uiteindelik met 44-17 te wen.
Hoewel daar beslis uitblikners was aan die kant van Menlopark – veral in daardie manjifieke tweede helfte – sal dit inderdaad onregverdig wees om spelers uit te sonder ná hul triomf. In die jare wat kom sal al die spelers van hierdie span legendes word by die skool en hulle sal vir altyd bekendstaan as die span wat Hoërskool Menlopark ná meer as vyf dekades vir die eerste keer in die skool se geskiedenis glorie in ‘n belangrike rugbytoernooi kon laat smaak.
https://www.facebook.com/VirsekerBeker/videos/2913963508620519/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



