Tuks is eerste Volcanobeker kampioen
Tuks se droomseisoen het Saterdag perfek geëindig, toe hul drie senior spanne skoonskip gemaak het in die Volcanobeker interprovinsiale klubrugby toernooi.

Tuks se eerste rugbyspan het Saterdag op Loftus Versfeld ’n droomseisoen met ’n puik vertoning afgesluit om die eerste kampioen van die nuwe interprovinsiale Volcanobeker klubrugby toernooi te word.
Theuns Reynolds en sy makkers het dié tipiese eindstryd teen ABE Midas Naka Bulle, wat oudergewoonte deur klipharde en genadelose rugby gekenmerk is, met 50-26 gewen.
Daarmee het hierdie formidabele span van Nico Luus nie net dié toernooi onoorwonne afgesluit nie, maar ook hul derde trofee van die seisoen ingepalm. Hulle is vroeër die seisoen as die Blou Bulle se kampioenspan gekroon toe hulle die Carltonbeker gewen het, terwyl hulle in Julie vanjaar met die Maties op hul tuisveld in Stellenbosch afgereken het om as University Sports South Africa (USSA) kampioen by dié organisasie se jaarlikse toernooi uit die stryd te tree.
Die eerstespan van Tuks se oorwinning was boonop die kersie op die koek op ’n dag van sukses, nadat hul tweede- en derdespanne ook as Volcanobeker kampioene gekroon is. Die tweedes het met ABE Midas Naka Bulle ( 39-27) afgereken, terwyl die derdes met 31-15 baas was teen Quins-Bobbies (QBR).
Soos dit dikwels gaan met wedstryde waarin Tuks ’n kliniese vertoning lewer soos in Saterdag se eindstryd, is die telling nie regtig ’n ware weergawe van dit wat op die veld gebeur het nie.
Voorlangs was dit ’n klipharde stryd, met ABE Midas Naka Bulle wat nie ’n tree teruggestaan het vir die studente nie. Trouens, dit was grootliks ’n gelykop stryd met kwaliteit rugby waarteen min spanne uit die Curriebeker se B-liga sou kon weerstand bied.
Dit was egter agterlangs waar Tuks die oorhand gehad het. Danksy die groter spoed en beter vaardighede in die agterlyn kon Tuks weer doen waarvoor hulle bekend is. Dít is om skouspelagtige drieë teen die verloop van die spel te gaan druk, wat die wind uit hul teenstanders se seile haal.
Tuks het ook geen kanse gewaag nie en die wedstryd benader soos enige eindstryd benader behoort te word. Dit het beteken dat losskakel Steven Moir met elke moontlike geleentheid pale toe gemik het, ten spyte van die feit dat sy span van die begin af die voortou geneem het.
Uiteindelik het Tuks net een drie meer as ABE Midas Naka Bulle gedruk (vyf teen vier), wat Moir se 15 punte vanaf strafdoele deurslaggewend gemaak het.
Dié punte het ook aan Tuks die nodige voorsprong gebied om Luga van Biljon en sy makkers se reuse eindpoging te kon oorleef.
ABE Midas Naka Bulle het al hul punte in die tweede helfte aanteken en vier drieë teen Tuks se twee in dié skof gedruk, maar danksy Moir se skopskoen was die studente nooit onder druk op die telbord nie.
Terwyl Tuks kan feesvier ná ’n baie suksesvolle seisoen, is dit terug na die tekenbord vir die manne van die Moot. Hulle is reeds enkele seisoene die toonaangewende oopklub in Pretoria, maar kan gans te min silwerware vir hul moeite wys.
Voorlangs kan daar min fout gevind word met die span en ABE Midas Naka Bulle se pak voorspelers het veral goed ontwikkel onder die leiding van die onderskatte Naas Rossouw. Agterlangs kort dié span ’n bietjie meer vaardigheid en kreatiwiteit. ’n Top klas losskakel sal beslis ’n goeie belegging wees voor 2020 se Gouebeker toernooi begin.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.













