Atleet van Centurion samel reuse bedrag in vir plaasaanval slagoffers
Terwyl sy liggaam nog besig was om te herstel ná deelname aan die moordende Moab 240 myl veldwedloop in Amerika, het ’n sakeman van Centurion reeds weer aangetree om meer as 200km deur die suid-oos Vrystaat te hardloop ten bate van die slagoffers van plaasmoorde.
Slegs enkele dae nadat hy van Amerika teruggekeer het, waar hy ’n derde plek in die moordende Moab 240 myl veldwedloop behaal het, was die rateltaai Bennie Roux van Centurion weer reg vir sy volgende uitdaging.
Roux het letterlik skaars tyd gehad om sy bagasie uit te pak ná sy Amerikaanse avontuur, toe hy weer sy rugsak moes pak vir sy deelname aan die Hardloop vir Hoop-projek, wat hy in samewerking met AfriForum aangepak het.
Met dié projek het hulle geld ingesamel ten bate van AfriForum se Trauma-Ondersteuningseenheid. Dié eenheid fokus op hulp aan slagoffers van plaasaanvalle. Behalwe vir praktiese hulp soos kos en klere aan slagoffers, bied die eenheid ook bystand met die afneem van verklarings, ondersteuning op die misdaadtoneel, die skoonmaak van misdaadtonele, hulp tydens hofverskynings en sielkundige bystand aan slagoffers ná hul traumatiese ervarings.

Foto: Verskaf
Tydens die Moab 240 wedloop in Amerika het Roux minder as 90 minute geslaap, terwyl hy sowat 70 uur gehardloop het om die wedloop te voltooi. Hoewel sy liggaam dus beslis nog nie herstel het ná dié moordende avontuur nie, was Roux vasbeslote om ’n reuse sukses te maak van die Hardloop vir Hoop-projek.
Volgens Roux het hy, as boorling van die platteland, al hoe meer ’n behofte gehad om by die veldtog teen plaasmoorde betrokke te raak. Met familielede en vriende as slagoffers van plaasmoorde, het hy soos menige ander Suid-Afrikaners bewus geword van die aanslag op boere en hierdie projek was sy manier om deel te word van die bewusmakingsveldtog om plaasmoorde te beveg.
Uiteindelik het Roux 220 km in vyf dae deur die suid-ooste van die Vrystaat gehardloop. Hy het in Villiers weggespring en oor die tydperk dorpe soos Frankfort, Reitz, Betlehem en Fouriesburg aangedoen. Die wedloop het by die Oranje Gasteplaas buite Fouriesburg afgesluit.
Lede van die publiek kon Roux per kilometer borg of donasies gee vir die projek en op hierdie manier is daar uiteindelik R200 000 ten bate van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid ingesamel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
