Oud Bloubul- en Springbok stut en top sakeman oorlede
Ockie Oosthuzen, ’n man wat as rugbyspeler sowel as sakeman groot hoogtes bereik het, is Dinsdagaand op sy wynplaas in Stellenbosch aan kanker oorlede.
’n Voormalige stut van Noord-Transvaal en die Springbokke, Ockie Oosthuizen, is Dinsdagaand in Stellenbosch op die ouderdom van 65 oorlede, nadat hy sy stryd teen kolonkanker verloor het.
Oosthuizen is op 1 April 1955 in Johannesburg gebore en het sy skoolopleiding aan die Hoër Volkskool in Heidelberg voltooi.
Hy het in 1975 sy senior provinsiale rugbyloopbaan as 20-jarige student in Potchefstroom begin toe hy vir die destydse Wes-Transvaal uitgedraf het. Hy was een van die min stutte wat met gemak tussen die los- en vaskopposisies kon skuif.
Tydens sy weermagopleiding in Pretoria was Oosthuizen ’n seisoen lank die kaptein van Noord-Transvaal se B-span, voordat hy in 1981 sy deurbraak gemaak het. In Mei daardie jaar het hy op 26-jarige leeftyd Springbok geword tydens die eerste toets teen Fergus Slatterly se Iere.
Daarna haal hy ook die Springbokspan na Nieu-Seeland vir die beroemde betogertoer, waar hy in die tweede en derde toetse as loskopstut uitdraf.
In 1982 verlaat Oosthuizen Pretoria om terug te trek oor die Jukskeirivier, waar hy ’n legende in die destydse Transvaal-span geword het. Hy het dié span etlike seisoene met onderskeiding gelei, en as Transvaal-speler ’n verdere vier toetse gespeel – twee in 1982 teen die Suid-Amerikaanse Jaguares van Hugo Porta en twee teen John Scott se Engelse in 1984.
Oosthuizen het uiteindelik in nege toetse vir die Springbokke uitgedraf, terwyl hy een keer die Curriebeker kon wen saam met Noord-Transvaal in 1981.
Na sy rugbyloopbaan het Oosthuizen groot sukses behaal as sakeman, waar hy ’n maatskappy in die korttermyn versekeringsbedryf opgebou het.
Nadat hy sy sakebelange in Johannesburg verkoop het, het Oosthuizen na Stellenbosch verhuis, waar hy ’n wynplaas gekoop en as vooraanstaande wynmaker bekend geword het. Dis juis op dié plaas, Molenvliet Wine Estate, waar hy Dinsdagaand oorlede is.
Hy word oorleef deur sy vrou, Susan, en kinders Ockie jr, Mirinda en Karin, asook twee kleinkinders.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
