Kookwater atetiek in warm weer by Menlopark
Hoërskool Menlopark se 33ste jaarlikse uitnodigings atletiekbyeenkoms het verlede week eersteklas prestasies opgelewer.
Die Hoërskool Menlopark se atlete het Vrydag by dié skool se jaarlikse uitnodigingsbyeenkoms op die skool se eie baan ’n waarskuwing gerig aan uitdagers wat hulle vanjaar as Pretoria se top atletiekskool wil onttroon.
Geoordeel aan die prestasies wat hierdie byeenkoms opgelewer het, sal die Parkies weer deeglik van hulself rekenskap kan gee in die res van die seisoen.
Met sewe skole wat uit drie verskillende provinsies opgeruk het vir Hoerskool Menlopark se jaarlikse byeenkoms, was daar vooraf geen twyfel dat puik prestasies deel van die aksie sou uitmaak nie. Kwaliteit teenstand soos Pretoria Boys High en Pretoria Girls High, Hoërskool Monument van Krugersdorp, Helpmekaar Kollege van Johannesburg, King Edward School van Johannesburg, Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg, HTS Middelburg en ’n span van Pietermaritzburg Distrikte het gesorg dat Menlopark se atlete deeglik getoets word.
Dit was egter die versengende hitte waarin die grootste deel van die byeenkoms plaasgevind het wat waarskynlik gesorg het dat relatief min rekords in die slag gebly het. Vier nuwe rekords is deur meisies opgestel, terwyl slegs een seunsatleet die rekordboeke kon herskryf.
Nog ’n rede is dat hierdie byeenkoms se standaard oor die jare besonder hoog was. Daarvan getuig die feit dat verskeie rekords van die byeenkoms reeds sedert die 1970’s en 1980’s staande bly.
Vrydag se top prestasies vergelyk egter met die beste wat tans op enige plek in Suid-Afrika in skoleatletiek gevind kan word. Twee o.14 meisies van Menlopark het mekaar behoorlik opgedreun in drie verskillende velditems, naamlik gewigstoot, diskus en spiesgooi. Die kompetisie tussen Savannah Visser en Cellionka van den Berg het uiteindelik vir drie nuwe rekords in dié items vir meisies o.14 gesorg, met Visser wat die gewigstoot (13.21m) en spiesgooi (39.15m) in rekord afstande gewen het.
Van den Berg het ook die ou rekord oortref in die gewigstoot, maar dit was in die diskus (41,37m) waar sy die bordjies op só ’n treffende wyse kon verhang dat sy nie net die rekordboeke herskryf het nie, maar ook ’n voltal (1200 punte) op die bekende ABSA tabel verdien het. Dié prestasie staan dus uit as die beste van die byeenkoms.
Nóg ’n Menlo atleet, Alicia Khunou, het derde plekke in die gewigstoot en diskus behaal in dieselfde ouderdomsgroep.
Ten spyte van die hitte en die grasbaan waarop die byeenkoms aangebied is, was daar ook ’n paar puik vertonings in die naellope. Só het al die wenners in die seuns se 100m wedlope vanaf o.15 tot o.19 tye van minder as 11 sekondes aangeteken. Hier het veral die tyd van Joseph Kayembe van die span uit Pietermaritzburg uitgestaan in die 100m vir seuns o.15, wat hy in 10.9s gewen het. Dit was 1072 punte op die ABSa tabel werd.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.











