Local sportSchool sportSport

Titaniese stryd tussen top vier skole by B-bond atletiekbyeenkoms

Hoërskool Oos-Moot blaf volgende jaar weer saam met die groot honde van die A-bond, nadat dié skool se atlete verlede week die Pretoria B-bond atletiekbyeenkoms gewen het.

Pretoria se B-bond atletiek liga staan al lank bekend as die stryd tussen noord en suid, maar vanjaar was dit die enigste deelnemer uit die Moot wat uiteindelik met die louere kon wegstap.

Hoërskool Oos-Moot het verlede week dié kompetsie gewen en in die proses met drie skole uit die suide en drie skole uit die noorde van die Tshwane metro afgereken.

Hierdie oorwinning het egter nie maklik gekom vir Oos-Moot nie. Reg deur die dag het ’n titaniese stryd geheers tussen die top vier deelnemers. Teen laatmiddag was dit duidelik dat die aflos wedlope deurslaggewend sou wees en Oos-Moot het die oorwinning dáár beklink met drie goue- en twee bronsmedaljes in dié items.

Oos-Moot het uiteindelik met 2442 punte geëindig, gevolg deur Hoërskool Centurion (2407 punte), Hoërskool Eldoraigne (2376 punte), Hoërskool Overkruin (2340 punte), Sutherland High School (1894 punte), Hoërskool Akasia (1871 punte), Hoërskool Pretoria-Noord (1837 punte) en Hoërskool Erasmus van Bronkhorstspruit (1563 punte).

Hierdie uitslae beteken nie net dat Oos-Moot volgende jaar weer opskuif na die A-bond nie, maar ook dat Erasmus terugskuif na die C-bond, nadat hulle verlede jaar gepromoveer is.

Die byeenkoms het in ideale atletiekweer plaasgevind in die Tuks Atletiekstadion en is met groot onderskeiding aangebied deur Centurion. Dié skool se personeel het werklik elke logistieke aspek puik hanteer, wat skitter-atletiek, ’n feeselike atmosfeer op die paviljoen en genoeg te ete en te drinke vir almal op die terrein moontlik gemaak het.

Op die baan en in die velditems het die byeenkoms verskeie eersteklas prestasies opgelewer, waarvan die tien nuwe byeenkomsrekords kan getuig. Hiervan is agt in velditems en slegs twee in baanitems bereik.

Die ster van die byeenkoms was Tian Stoltz van Overkruin, ’n o.15 seun wat twee rekords verpletter het. Hy het die diskus (nuwe rekord 66,32m) ’n volle 10.72 meter verder as die vorige rekord laat grondvat, terwyl sy nuwe gewigstoot rekord (17,92m) ook ’n reuse 2,58m verder is as die vorige beste.

Stoltz se poging in die diskus item was die dag se top prestasie en hy is welverdiend as byeenkoms se Junior Victor Ludorum aangewys.

Vier veldatlete van Oos-Moot het puik presteer. Charné van Zyl (meisies o.19) se 12.22m in die gewigstoot en haar nuwe rekord van 47,29m in die spiesgooi, Febe Wessels se 13.36m in die gewigstoot en 37,73m in die diskus vir meisies o.17 en Ziane du Plessis se 12,26m in die gewigstoot en rekord-afstand van 33,95m in die diskus vir meisies o.14 was uitsonderlik én goud werd vir hul spanne.

Die talentvolle Micyla Botha (o.15) van Oos-Moot was ook weer op haar stukke en haar 5.40m in die verspring en 1,68m in die hoogspring het albei gesorg vir nuwe byeenkomsrekords.

Chrissie de Beer van Pretoria-Noord se puik afstand van 12,91m in die gewigstoot vir meisies o.16 het ook die oog gevang.

Centurion se Wian Labuschagne (seuns o.16) se oorwinnings in die gewigstoot (13,88m) en diskus (44,72m) het aan hom die toekenningas beste senior veldtaleet besorg.

 

https://www.facebook.com/111890136831990/videos/184772196160685/?t=25

https://www.facebook.com/111890136831990/videos/546408802889147/

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button