Bulle lok Springbokke terug na Loftus
Die Bulls maak tans gereed om die Jake White-era tegemoed te gaan met ‘n span wat in 2021 gelaai sal wees met verskeie Springbok sterre wat terugkeer na Loftus Versfeld.
Hoewel daar tans geen rugby-aksie op enige rugbyveld in Suid-Afrika moontlik is nie, beteken dit beslis nie dat die bestuur van die Blou Bulle Maatskappy (BBM) stilsit en wag vir beter dae nie.
Nadat daar reeds voor die ontydige koms van die COVID-19 krisis bekendgemaak is dat die Springbok agtsteman en wêreldbeker ster, Duanne Vermeulen, volgende jaar terug sal keer na Loftus Versfeld om weer vir die Bulls uit te draf, het dit intussen bekendgeword dat nog twee oud Springbokke ook hul rugby volgende seisoen in Pretoria sal speel.
Die Bulls het verlede week amptelik bevestig dat die Springbok vaskopstut, Marcel van der Mewe, ’n kontrak met hulle gesluit het om vir ten minste twee seisoene weer sy rugby op Loftus te speel.
Daar word verder verwag dat die formaliteite rondom die terugkeer van die voormalige Junior Springbok kaptein en Bulls losvoorspeler, Arno Botha, ook binnekort afgehandel sal wees en dis nie meer ’n geheim dat hy op pad terug is na Pretoria nie.
Intussen word daar oor blykbaar onderhandel met nog drie Springbokke, senter Jesse Kriel, stut Vincent Koch en slot Jason Jenkins, om ook weer vir die Blou Bulle en die Bulls te speel. In Jenkins se geval sal dit waarskynlik net vir die komende Curriebeker seisoen wees. Dié toernooi is egter steeds in die weegskaal weens die onsekerhede rondon die COVID-19 krisis.
Jake White, die Bulls se nuwe Direkteur van Rugby, het glo ook planne om ’n paar ander Springbokke, wat voorheen SuperRugby by ander provinsies in Suid-Afrika gespeel het, na Loftus te lok.
Daarbenewens het White skynbaar deeglik huiswerk gedoen oor ’n paar moontlike toekomstige sterre wat hy ook by sy planne met die Bulls wil betrek. Onder hierdie manne tel gewese SA skole sterre en ’n paar manne wat in die onlangse verlede in die Varsitybeker toernooi uitgeblink het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
