Bloubul kragvleuel van die 1960’s oorlede
’n Gewese Bloubul rugbyspeler, wat in die 1960’s vanweë sy kraglopies deur internasionale rugbyskrywers as ’n 'monster-vleuel' beskou is, is verlede week oorlede.
Een van die eerste supersterre uit die rugbygeskiedenis van Noord-Transvaal en die Blou Bulle, die kragtige vleuel, Corra Dirksen, is verlede week op die ouderdom van 82 oorlede.
Dirksen was ’n mediese dokter in Krugersdorp en hy het tot enkele weke voor sy dood nog gepraktiseer. Hoewel hy onlangs positief getoets is vir Covid-19, was hy reeds besig om te herstel en daar word vermoed dat hy uiteindelik aan ’n hartaanval gesterf het.
Lank voor die rugbywêreld nog kennis geneem het van monster vleuels soos Ray Mordt en Jonah Lumo, het die Blou Bulle al ’n vleuel gehad wat met brute krag bo-oor ’n teenstander kon hardloop.
Dirksen was op sy dag een van die mees gevreesde vleuels in die land en hy was baie sterk op sy bene. Met sy kraglopies het hy vele skouspelagtige drieë in sy 35 wedsrtyde vir die destydse Noord-Transvaal en sy tien toetse vir die Springbokke gedruk.
Hy het sy Springbok debuut gemaak in Suid-Afrika se vierde toets teen John Thornett se Wallabies van 1963.
Dit was egter teen Christian Darrouy se Franse toerspan van 1967 dat Dirksen byna ’n kultusfiguur in Suid-Afrikaanse rugby geword het. Hy het drie drieë in daardie toetsreeks gedruk, maar dit was veral sy kragvertoning in die eerste toets in Durban wat hom as internasionale ster gevestig het. Ná daardie vertoning, het ’n Franse rugbyskrywer na hom verwys as ’n “monster”.
Die Franse media het hom as Suid-Afrika se gevaarlikste speler beskou. Hierdie eerbewys is nogal insiggewend as in ag geneem word dat beroemde sterre soos HO de Villiers, Jannie Engelbrecht, John Gainsford, Syd Nomis, Piet Visagie, Dawie de Villiers, Gys Pitzer, Frik du Preez, Piet Greyling en Jan Ellis almal in dié toetsreeks saam met hom in aksie was.
Dirksen se lewe het na sy speeldae ’n interessante wending geneem, wat baie oor sy karakter en deursettingsvermoë vertel. Hy het sy rugbystewels op die ouderdom van 30 opgehang, nadat hy besluit het dat hy ’n mediese dokter wil word. Op 31-jarige ouderdom het hy dus as eerstejaar by Tukkies ingeskryf om hom as mediese dokter te bekwaam.
Nadat hy sy studies voltooi het, het Dirksen in Johannesburg begin praktiseer en later het hy saam met ’n paar vennote ’n praktyk in Krugersdorp op die been gebring, waar hy tot met sy afsterwe as baie gewilde algemene praktisyn gewerk het.
Dirksen se laatlam broer, Hansie, (hulle verskil 20 jaar) het in die 1980’s vir Noord-Transvaal en die Vrystaat uitgedraf. Hansie Dirksen se twee seuns, Cornelius en Hanno, het ook albei internasionale rugby vir die Amerikaanse Eagles gespeel.
Corra Dirksen en sy vrou, Deline, het een seun, Gerhard, wat self op sy dag vir Transvaal se skolespan as losvoorspeler uitgedraf het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
