Local sportSport

Gewese Bloubul voorryman oorlede

’n Voormalige voorryman van die Blou Bulle, wat ook in een toets vir die Springbokke op die bank gesit het, is die afgelope naweek aan ’n hartaanval oorlede.

’n Oud vaskopstut van die Blou Bulle, wat op sy dag ook op die bank gesit het vir die Springbokspan, is die afgelope naweek skielik oorlede.

Japie Barnard (50), wat sedert die einde van sy rugbyloopbaan op Henneman in die Vrystaat geboer het, het Sondag oggend ’n hartaanval gehad en hy is kort daarna oorlede.

Barnard het in die vroeë 1990’s in die amateur-era reeds naam gemaak as ’n sterk skrumwerker vir die Polisie rugbyklub in die Blou Bulle se Carltonbeker liga. Hy het as jong vaskopstut vir die Blou Bulle begin speel en hy het in altesaam 31 wedstryde vir die Ligbloues uitgedraf.

Nadat die spel teen die einde van 1995 professioneel geword het, is Barnard deur die Gauteng Leeus oor die Jukskeirivier gelok, waar hy tot einde 1996 altesaam 13 keer vir dié span in die Curriebeker- en SuperRugby toernooie uitgedraf het.

In daardie tydperk is hy beskou as een van die beste vaskopstutte in Suid-Afrika. Dit was egter ook ’n tydperk waartydens hy een van die grootste teleurstellings van sy loopbaan moes verwerk. Hy is vroeg in Junie 1994 vir die tweede toets teen Will Carling se Engelse toerspan deur Ian McIntosh as reserwe gekies vir die Springbokspan. Ongelukkig moes ’n speler in daardie jare nog ernstig beseer word voor die plaasvervangers speelkans kon kry en Barnard het nie die geleentheid gekry om vir sy land te speel nie.

Om sake te vererger is Barnard op vreemde wyse nie gekies vir die toerpan wat ’n week later op die laaste amptelike rugbytoer van die amateur-era na New Zealand vertrek het nie. Hy het dus nooit die geleentheid gehad om amptelik sy Springbok kleure te verwerf nie.

Op verteenwoordigende vlak het hy vir die SA Polisiespan, die SA Magtespan en die SA Barbarians uitgedraf.

Na sy dae by die Leeus in Johannesburg het Barnard ook vir die Pumas (toe nog gesetel in Witbank) en die Valke (Oos-Rand) uitgedraf. Teen die einde van sy loopbaan het was hy steeds ’n derduiwel in die skrums en het hy ’n internasionale speler soos Matthew Proudfoot (toetsspeler vir Skotland en later Springbok skrum-afrigter) uit die beginspan van die Valke gehou.

Barnard word oorleef deur sy vrou, Erna en een seun. Teen druktyd was geen begrafnisreëlings nog bekend nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button