Local sportSport

Garsies rugby vier “dekade van genade”

Nadat basies geen skolerugby vanjaar moontlik was nie, het Hoërskool Garsfontein se rugbybestuur tydens hul jaarlikse borgefunksie besluit om ’n aantal spelers uit te sonder wat deel was van dié skool se merkwaardige opgang op die rugbyveld oor die afgelope dekade.

Die Covid-19 krisis het vanjaar ’n reuse invloed gehad op die sogenaamde “wintersport seisoen” vir skoliere, met dié seisoen wat pas afgeskop het toe die grendelstaat regulasies almal se lewens basies tot stilstand geruk het.

Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan het in hul enigste wedstryd op die Afgri skole-dag op Loftus Versfeld gewys dat hulle reg was vir ’n groot seisoen deur Kempton Park met 71-5 kaf te draf, maar toé tref die grendelstaat-nootlot en geen rugby was daarna vir enige skoolseun moontlik nie.

Die bestuur van Garsfontein se rugby het besluit om, in die lig van die impak van Covid-19 in 2020, hul jaarlikse borgefunksie verlede week te gebruik as ’n geleentheid om terug te kyk oor die sukses wat dié skool die afgelope dekade op die rugbyveld behaal het.

Deesdae is die legendariese loesing van 102-0 waarmee die Garsies in 2010 teen Waterkloof verneder is, slegs ’n baken waarna verwys word om die sukses van die afgelope dekade te onderstreep.

Ná daardie reuse telling is daar in Garsfontein se geledere planne beraam om die situsaie om te keer en daar is byna dadelik aan die werk gespring. Intussen het dié skool nie net op die rugbyveld nie, maar in byna elke sportkode, oor provinsiale grense heen ’n gerekende teenstander geword.

Wat die rugby betref, was die vordering merkwaardig. Nog twee nederlae het in 2011 en 2013 teen hul aartsvyand, Waterkloof, gevolg. Die groot dag het in 2014 aangebreek toe Garsfontein met die Klofies op laasgenoemde se tuisveld kon afreken. Die telling was 44-19 – sewe drieë teen twee.

Die res is geskiedenis. Daardie dag in 2014 was daar manne soos Ruan Ackerman, Le Roux Roets, Jan-Henning Campher, Franco Naudé en ’n 17-jarige Embrose Papier in hul geledere – almal manne wat nou reeds SuperRugby ervaring het, terwyl Papier al sewe toetse op sy kerfstok het.

Verlede week se Garsies Rugby borgefunksie was dus die ideale geleentheid om hulde te bring aan al die top spelers van die skool wat deel was van die opbouproses, waardeur Garsfontein binne een dekade nasionaal ’n top-10 rugbykrag geword het.

Die skool se Bestuurshoof (Werwing, Fasiliteite en Fondsinsamelings), Gustav Theunissen, wat ’n sleutelrol in die opbou van dié rugbykrag gespeel het, het ’n aantal “spelers van die dekade” aangewys, wat op die fuksie vereer kon word.  Theunissen het na die afgelope dekade in terme van die skool se vordering op die rugbyveld verwys as ’n “dekade van genade”.

Met die lees van hierdie name, besef ’n mens watter reuse rol Garsfontein wel die afgelope dekade gespeel het om top rugbyspelers op te lewer. Behalwe die bogenoemde sterre was daar ook Lourens “Makou” Erasmus (2011); Hayron Andrews (2013), JP Wegner, PJ Toerien en Jaco Bezuidenhout (2015 – ook die jaar waartydens die Garsies die heel eerste keer die Beeldtrofee vir Makroskole kon inpalm); Austin Davids, Shawn Williams, Hendré Eloff, Ryno Pieterse en PJ Steenkamp (2016); Jordan van Dyk, Diego Appollis en Keagan Johannes (2018); AJ Johnson, Zeilinga Strydom, Jurich Claassens en Rynard Roets (2019); asook Geraldo Flusk, Ruwan Cloete, Ruan Delport en Hardus Rothman (2020).

Laasgenoemde vier het vroeër vanjaar, saam met Kwagga van der Nest en Carlton Banies, Bloubul kontrakte ontvang, ten spyte van die feit dat hulle slegs een wedstryd kon speel.

Die skool se huidige eerstespan afrigter, Johan du Plessis, is aangewys as die afrigter van die dekade.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button