Centurion bedank borge na moeilike seisoen
Centurion rugbyklub se bestuur het getroue donateurs en amptenare by ’n onlangse funskie vereer vir hul bydae om die klub deur die moeilike 2020 seisoen te dra.
Die dramatiese effek van Covid-19 het in 2020 letterlik elke aspek van ons samelewing beïnvloed, maar op sportgebied – en veral klubsport – was hierdie pandemie se gevolge waarskynlik die ergste.
Nie net kon daar sedert middel Maart vanjaar geen aksie op die sportvelde van klubs plaasvind nie, maar een van die klubs se hoof inkomstebronne – die hekgelde en verkope van verversings by wedstryde aan die publiek wat spanne ondersteun – het uiteraard ook opgedroog.
Vir Centurion rugbyklub was die Covid-19 terugslag ’n enorme uitdaging. Dié klub se eerstespan het hul beste voorseisoen-voorbereiding in baie jare gehad en daar is met verwagting en opgewondenheid uitgesien na ’n puik 2020 seisoen.
Toe Centurion boonop op 14 Maart vanjaar in die eerste wedstryd van die nuwe TW Profile Super Klubliga met Quins-Bobbies afreken, het die hoop verder opgevlam dat dié klub se harde werk in die voorseisoen vanjaar weer vir silwerware in hul vertoonkans sal kan sorg.
Ongelukkig is die grendelstaat regulasies kort daarna ingestel en die klubspelers se seisoen is effektief beëindig.
Behalwe vir die teleurstelling vir spelers en ondersteuners dat geen verdere aksie op die veld moontlik was nie, het die grendelstaat effek ook letterlik die fisiese oorlewing van die klub bedreig, aangesien baie normale inkomstebronne eensklaps opgedroog het.
Centurion rugbyklub was egter gelukkig dat hul getroue borge en ander donateurs hul in dié moeilike tyd bygestaan het om oorlewing moontlik te maak. Beperkte finansiële hulp van die Blou Bulle Maatskappy was ook ’n welkome meevaller wat ’n paar gate kon toestop.
Die bestuur het dus verlede week besluit om al hierdie donateurs, sowel as die getroue amptenare van die klub, wat op onbaatsugtige wyse aanhou werk het om die klub se oorlewing moontlik te maak, tydens ’n spesiale funksie te bedank.
Intussen het daar ook veranderings plaasgevind op die klub se bestuur. Dié bestuur en die klub se afrigters is reeds hard aan die werk om te beplan vir die 2021 seisoen en daar word gehoop dat verslapping of afskaffing van Covid-19 regulasies wel so gou as moontlik weer aksie vir die klub se spelers moontlik sal maak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
