Voormalige Bloubul Paul Botes oorlede
Paul Botes, ’n veelsydige ster-agterspeler van die Blou Bulle uit die tagtigerjare, is verlede week aan hartversaking oorlede.
Die voormalige veelsydige agterspeler van die Blou Bulle, Paul Botes, is verlede week op die ouderdom van 58 aan hartversaking oorlede.
Botes, was ’n Pretorianer in murg en been en het aan die Hoërskool Overkruin in die noorde van die stad gematrikuleer, waarna hy by die Universiteit van Pretoria gestudeer het.
Dis juis as jong Tukkie dat Botes in die middel 1980’s sy deurbraak op provinsiale vlak gemaak het. Hy was bekend as ’n heelagter, maar is deur afrigters soos dr. Ernt Dinkelman en dr. John Williams ook gereeld op vleuel en soms selfs losskakel ingespan. Dít het waarskynlik sy besondere rugbytalent beklemtoon. Hy was vinnig, vaardig, ’n puik verdediger en hy het boonop ’n geleerde skopvoet gehad, wat hom ’n aanwins in enige van die drie posisies gemaak het.
In sy deurbraak-jaar, 1984, het Botes as 21-jarige ’n droomseisoen beleef en hy is aan die einde van daardie seisoen saam met Springbokke soos Uli Schmidt en Helgaard Muller, asook provinsiale legendes soos Wessel Lightfoot en Niel Buger genomineer as Suid-Afrika se Jong Speler van die Jaar.
Botes het in 47 wedstryde vir die Bulle uitgedraf, maar dié getal sou waarskynlik baie groter gewees het as hy nie met legendes soos Johan Heunis (Springbok) en wyle Gerbrand Grobler (Junior Springbok) in sy gunsteling posisie, heelagter, moes meeding nie.
Hy het aan die einde van sy loopbaan ook sy vlerke gesprei na Europa en ’n paar seisoene met groot sukses klubrugby in Italië gespeel.
Botes word oorleef deur twee kinders en sy bejaarde moeder. Geen begrafnisreëlings was teen druktyd bekend nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
