Garsies spog met splinternuwe sportsentrum
Die Hoërskool Garsfontein spog met ’n splinternuwe, moderne Hoëprestasie Sportsentrum wat ’n reuse rol kan speel met die ontwikkeling en verbetering van die skool se sportsterre.
Dit is geen geheim dat die Covid-19 krisis verlede jaar groot ontwrigting aan die jaarlikse skoolprogram veroorsaak het en ook skolesport vir byna ’n jaar tot stilstand laat knars het nie.
Tog het die bestuur van Hoërskool Garsfontein in die Ooste van Pretoria tydens hierdie moeilike tydperk steeds daarin geslaag om ’n reuse deurbraak te bewerkstelling ten opsigte van die uitbreiding van die skool se sportfasiliteite.
Verlede week kon die Garsies met trots hul splinternuwe Hoëprestasie Sportsentrum amptelik open, nadat dié sentrum grotendeels tydens die grendelstaat tydperk gebou en toegerus is.
Dié spogsentrum is toegerus met die heel beste toerusting wat – soos die skoolhoof, Leon Bantjies dit gestel het – die skool se sportsterre sal help om “sterker, vinniger en beter” te kan word.
Hierdie nuwe sentrum sluit in ’n volledig toegeruste gimnasium, wat met die hulp van kenners in die bedryf uitgelê en toegerus is om tot voordeel van alle sportsoorte gebruik te kan word.
Die skool is veral trots op die feit dat selfs ’n “SensoPro Trainer” deel uitmaak van die sentrum. Dié masjien kan nie net sportmanne se spoed, uithouvermoë en krag monitor en verbeter nie, maar dit is ook ’n puik apparaat om te help met die reabilitasie van beserings. Die Garsies is boonop baie trots op die feit dat hulle die enigste skool in Suid-Afrika is wat tans oor hierdie gesogte apparaat beskik.
Verder sluit die sentrum ’n fisioterapie praktyk, sowel as ’n biokinetika sentrum in, wat tot die beskikking van die skool se sportsterre sal wees.
Volgens Gustav Theunissen, bestuurshoof van werwing, fasiliteite en fondsinsamelings by Garsfontein, was die bou van hierdie sentrum van kardinale belang vir die skool as hulle in terme van sportontwikkeling en -prestasie wil bybly by die bestes in die land.
Die sentrum, wat strategies in die middel van die skool se sportterrein gebou is, is ook só ontwerp dat die beton dak as onthaalarea gebruik kan word tydens sportgeleenthede. Dié area was groot genoeg om die uitgesoekte gaste wat verlede week die opening van die sportsentrum bygewoon het, gerieflik te akkomodeer, terwyl alle Covid-regulasies steeds gehandhaaf kon word.
As bonus vir die nuwe ontwikkeling spog die Garsies se hokkiespelers ook met nuwe kleedkamers.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
