Centurion stoeier mik na Olimpiese Spele
Die stoeigemeenskap van Centurion hou duime vas vir een van hul sterre, wat die afgelope week in Noord-Afrika aan die kwalifiseringstoernooi vir die Olimpiese Spele deelgeneem het.
Groot opgewondenheid en ’n gees van afwagting heers by die Centurion Warriors Stoeiklub, waar lede van dié bekende klub die vordering van een van hul klublede hierdie week met belangstelling sal dophou.
Reynardt Louw het verlede week na Tunisië in Noord-Afrika vertrek, waar hy aan die Afrika Olimpiese kwalifiseringstoernooi as Vrystyl stoeier sal deelneem met die oog op kwalifikasie vir die 2021 Olimpiese Spele in Tokio, Japan.
Die 23-jarige Louw is lank reeds een van Suid-Afrika se top stoeiers en sy prestasies op die stoeimat kom reeds ’n lang pad, sedert hy 16 jaar gelede aan dié sport begin deelneem het.
Behalwe vir ’n gros provinsiale- en nasionale titels het Louw ook al op internasionale vlak sy merk gemaak. Hy spog met een goue medalje en drie silwer medaljes op die Afrika kampioenskappe, wat beteken hy het reeds een keer in die verlede die titel as Afrika kampioen verdien.

Foto: Koos Venter
Hierdie feit gee Louw selfvertroue, want hy weet dat hy die knoop kan deurhaak.
“Ek het al teen die manne gestoei en weet dus wat om te verwag,” het hy aan Rekord gesê.
As junior het Louw ook al in 2014 sy buiging by die Jeug Olimpiese Spele gemaak, waar hy uiteindelik in die sesde plek in sy gewigsafdeling geëindig het.
Deesdae stoeie hy in die 65kg gewigsafdeling, wat beskou word as een van die moeilikste afdelings op senior internasionale vlak.
Soos alle ander sportsoorte het stoei die afgelope jaar swaar gely onder die Covid-19 krisis en die gevolglike inperkings. Ernstige stoeiers soos Louw moes maar op hul eie fiks en skerp probeer bly, aangesien geen kontak-oefeninge toegelaat is nie.
Louw het steeds gereeld gedraf, nadat die ergste regulasies van die grendelstaat verslap is, terwyl hy gelukkig is om ’n redelik goed-ingerigte gimnasium tuis beskikbaar te hê, waar hy steeds sy krag- en fiksheidsoefeninge kon doen.
Vir hom was die uitdaging eerder om sielkundig gefokus te bly en dít het hy gedoen deur aan te hou oefen en te glo dat die geleenthede vir deelname gouer eerder as later weer sou kom. Stoei het hom immers al baie lewenslesse geleer en die Covid-uitdaging beskou hy as net nog ’n hindernis wat oorkom moet word op pad na groter hoogtes.
Dié oud leerling van Hoërskool Zwartkop in Centurion studeer deesdae vir ’n BCom graad in Finansiële Bestuursrekeningkunde by Akademia, nadat stoei tot onlangs sy lewe oorheers het.
Ná skool het hy ’n tyd lank in Amerika deurgebring, waar hy op uitnodiging by die Origon State Universiteit saam met die stoeispan geoefen en aan kompetisies deelgeneem het.
“Daar het ek baie van dissipline en toewyding in die sport geleer, want vir die manne wat in Amerika op daardie vlak stoei, is die sport ’n leefwyse,” het Louw vertel.
Stoei is in die Louw familie se bloed en Reynardt se broer, Brenden, is self een van die Centurion Warriors se uitblinkers, terwyl hul pa ook ’n top stoeier was op sy dag.
https://fb.watch/4I5vPY5W6p/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
