Skoolseuns baljaar weer op rugbyveld na lang aksie-droogte
Opwindende skolerugby is opgedis by die Hoërskool Monument se eeufees-toernooi, waarmee verskeie top rugbyskole vanoor die hele land – waaronder vier Pretoria skole – hul terugkeer na rugby-askie gemaak het ná die Covid-regulasies verslap is.
Skolerugby is, tot groot vreugde vir liefhebbers van die spel op hierdie vlak, uiteindelik terug en verskeie top skole se rugbyspanne was die afgelope naweek, ná ’n droogte van langer as ’n jaar, weer in aksie.
Nadat die regering die groen lig gegee het vir rugby op skolevlak om weer wedstryde aan te bied, was daar regoor die land rugby-honger skoolseuns wat met groot dankbaarheid weer hul skole se rugbytruie oor die kop kon trek.
Vir verskeie plaaslike skole in Pretoria was die fokus die afgelope naweek op die eeufees toernooi van Hoërskool Monument in Krugersdorp, waar vier van die stad se top skole in aksie was.
Dié toernooi het slegs ’n week voor dit sou begin so byna gesneuwel, nadat die aanvanklike organiseerders daarvan die bal figuurlik gesproke tot groot verleentheid van verskeie partye aangeslaan het, terwyl die meeste skole se reis- en verblyfreëlings reeds getref was. Gelukkig kon die skool se rugby-organiseerders met die hulp van sommige ouers en borge self ingryp om die toernooi te red.
Uiteindelik was Afrikaans Hoër Seunskool, Pretoria Boys High School, Hoërskool Menlopark en Hoërskool Garsfontein wel by Monnas se eeufees in aksie en drie van dié vier skole kon Pretoria se naam hoog hou met goeie oorwinnings oor sterk opposisie.
– Slegs Pretoria Boys High School kon nie die pyp rook nie. Hulle het met 15-41 vasgeval teen ’n baie sterk span van Hoërskool Rustenburg.
– Affies se span van 2021 het sommer in hul eerste wedstryd geskiedenis gemaak, toe hulle die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley met 19-7 geklop het. Daarmee het die Pretorianers wraak geneem vir die nederlaag (22-25) wat die Affies-span van 2011 in die enigste vorige kragmeting tussen dié twee skole gely het.
– Hoërskool Garsfontein het ook hul seisoen op ’n wennoot begin deur Hoërskool Nelspruit die afgelope naweek by die Monnas-fees met 33-17 te klop. Hoewel Nelspruit die vroeë verlies van hul twee senters weens beserings as verskoning sal aanvoer, het die Garsies egter skerp en lus vir hul tradisionele opwindende rugby gelyk. Dié span sal beslis vanjaar weer hul ondersteuners trakteer met hul avontuurlustige spel.
– Hoërskool Menlopark het ’n moedige span van St Johns met ’n baie goeie vertoning getroef. Die Parkies het vyf keer die doellyn oorgesteek vir hul oorwinning van 42-24. Losskakel Shaun Calitz se visier was boonop baie goed ingestel en hy het 17 punte tot sy span se totaal bygedra.
– Ongelukkig vir die seuns van Hoërskool Waterkloof, sal hulle langer met wag om weer met trots hul skool te kan verteenwoordig. Dié skool se eerstespan sou aanvanklik ook by Monnas se eeufees in aksie gewees het, maar ’n skielike uitbraak van ’n griep-virus variant het die Departement van Onderwys genoop om in te gryp en Waterkloof van alle sport aksie te onttrek tot verdere kennisgewing. Nie net kon hul rugbyspelers nie by Monnas in aksie wees nie, maar Waterkloof se baie bekende en gewilde jaarlikse netbalfees, wat spanne van oor die hele land én uit Namibië lok, is op kort kennisgewing summier afgestel ná die regering se ingryping.
– Dis nog nie bekend of Waterkloof toegelaat gaan word om vanaf Dinsdag 27 April deel te neem aan die jaarlikse Noord/Suid toernooi, wat vanjaar deur Affies in Pretoria aangebied word nie. Garsfontein en Menlopark sal egter wel saam met Affies deel wees van die skole uit die noorde, wat teen skole soos Stellenberg, Oakdale, Grey Kollege, Paarl Gimnasium en Outeniqua uit die suide gaan speel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







