Oos-Moot klop Menlopark op krieketveld
Hoërskool Oos-Moot se eerste krieketspan het onlangs ‘n geskiedkundige oorwinning behaal oor een van die land se sterkste kriekeskole.
Die Hoërskool Oos-Moot se eerste krieketspan het onlangs gewys presies hoe honger hulle vir krieket-aksie was ná die lang frustrerende inperkeningstyd weens die Covid-19 krisis.
Hoewel Die Hoërskool Menlopark beskou word as een van die beste krieketskole in Suid-Afrika en die afgelope seisoene gereeld belangrike toernooie gewen het, het hulle hulself deeglik vasgeloop in ’n gemotiveerde span van Oos-Moot in ’n onlangse Pretoria A-liga wedstryd.
Hierdie span van Oos-Moot het geskiedenis gemaak, aangesien dit die eerste keer in 15 jaar was dat ’n krieketspan van dié skool vir Menlo kon klop. Dit beteken dat nie een van die seuns wat betrokke was in die wedstryd al op skool was toe Oos-Moot laas met Menlopark kon afreken nie.
Oos-Moot se manne het eerste gekolf en kon daarin slaag om 154/8 aan te teken in hul 50 boulbeurte.
Daarna is die Menlo-span vir selgs 142 lopies almal uitgeboul, wat aan Oos-Moot die oorwinning met 12 lopies besorg het.
Vir Oos-Moot was daar uitblinkers met bal én kolf en Janco Morton, Edwin Carrhill, Kimon de Jong en Stefan Pretorius is die vier manne wat die beste vertonings vir die Moot-span gelewer het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.