Local sportSchool sportSport

Skoolmeisie van Pretoria kan SA se volgende junior wêreldkampioen word

’n Groot toekoms op die atletiekbaan word voorspel vir ’n graad 11 leerling van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP), wat tans as die wêreld se nommer een junior atleet in die 400m hekkies beskou word.

Teen hierdie tyd is dit ou nuus dat daar gereeld vuurwerke verwag word wanneer Suid-Afrika se top vroue-atlete aantree vir die 400m hekkies item.

Die stryd tussen die veteraan Olimpiese atleet, Wenda Nel en haar twee jonger uitdagers, Zeney van der Walt en Taylon Bieldt, het almal aan die praat. Terwyl Nel tydens die senior nasionale kampioenskap twee weke gelede met die twee jonger dames afgereken het, was daar egter nóg ’n deelnemer wat tydens dieselfde wedloop geskiedenis gemaak het.

Die 17-jarige Anje Nel, ’n graad 11 leerling van Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria (AHMP) het tydens daardie wedloop sesde geëindig tussen die senior dames, maar sy het tog op haar eie ’n groot triomf beleef. Sy het die wedloop in 57.63s voltooi en daarmee Gontse Morake se Suid-Afrikaanse o.18 rekord, wat op 57,91s gestaan het, verbeter.

Met hierdie prestasie het Nel nie net gekwalifiseer om in Augustus vanjaar deel te neem aan die Junior Wêreldkampioenskap in Nairobi, Kenia, nie, maar sy het ook opgeskuif na die eerste plek op die wêreldranglys in 400m hekkies vir o.18 atlete.

’n Week voor haar rekordpoging is Nel ook in die Paarl by die Suid-Afrikaanse junior kampioenskap as 400m hekkies kampioen gekroon, toe sy in 58,71s byna twee sekondes voor haar naaste teenstander oor die wenstreep genael het.

Hoewel sy eintlik ’n plaasmeisie van die Laeveld is, was dit juis Nel se sportambisie wat haar Pretoria toe gelok het, nadat sy reeds as laerskooldogter in Nelspruit gewys sy is ’n toekomstige kampioen atleet. Sy het vroeg reeds geskitter in die hekkies-items, terwyl sy destyds ook nog as hoogspring atleet uitgeblink het.

Sedert haar skuif na Pretoria in graad agt spesialiseer sy in die 400m hekkies, maar Nel spog darem ook met ’n blitsige tyd van 55,4s in die gewone 400m wedloop.

By AHMP word sy afgerig deur die bekende Maritza Coetzee, wat natuurlik ook vir Zeney van der Walt onder hande neem. Coetzee wil nie graag haar twee atlete met mekaar vergelyk nie, maar sy het aan Rekord gesê dat daar geen rede is waarom Nel nie in Van der Walt se spore kan volg en later vanjaar as Junior Wêreldkampioen gekroon kan word nie.

“Haar eerste plek op die wêreldranglys wys tog waartoe sy in staat is. En ek dink Anja is sielkundig baie sterk, so ek glo sy sal met die bestes in die wêreld kan afreken. Ek glo sy sal, as alles volgens plan verloop, ten minste ’n medalje huis toe kan bring,” het Coetzee gesê.

Haar afrigter se geloof in haar vermoëns word ondersteun deur Nel se goeie sportgene waarmee sy geseën is. Haar pa, Polla Nel, was op sy dag ook ’n kranige atleet en rugbyspeler, wat vir die Blou Bulle se o.20 span uitgedraf het. Daarbenewens is haar oom die bekende oud hekkiesatleet, Wimpie Nel, wat in die vroeë 1990’s twee keer brons medaljes in die 110m hekkies by die Afrika kampioenskap gewen het.

Hoewel sy hou van syfers en besigheid en na skool beslis in ’n BCom-rigting wil studeer, is dié nuwe atletiekster ook baie ernstig oor haar sport.

“Ek het nog baie drome oor my atletiekloopbaan en wil uiteraard ook graag my land by die Olimpiese Spele en Wêreldkampioenskappe verteenwoordig,” het sy oor haar toekomsplanne gesê.

As Coetzee haar sin kry sal Nel later vanjaar, na afloop van die Junior Wêreldkampioenskap, reeds aan die realiteit en druk van internasionale kompetisie blootgestel word. Sy hoop om Nel in Europa te laat deelneem om meer ondervinding op te doen en te probeer opmaak vir al die aksie wat verlore gegaan het tydens die Covid-krisis.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button