Covid eis bekende fiksheid- en kondisioneringskenner van Centurion
Een van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van fiksheid, sportkondisionering en die reabilitasie van sportbeserings, het ook ’n slagoffer van die Covid pandemie geword
Die nuuste Covid-golf het Dinsdag oggend die lewe geëis van ’n legendariese persoon, wat bekend en geliefd was op verskeie sport-fronte in Pretoria.
Neels Liebel, bekende fisioterapeut, biokenetikus en fiksheid-kenner, het een van die nuutste slagoffers van die Covid pandemie geword. Hy was slegs 58 jaar oud.
Liebel, wat ’n fisioterapie- en biokenetika praktyk in Centurion bedryf het, het veral in rugby-kringe diep spore getrap. Hy sal wêreldwyd onthou word as die kondisioneringsafrigter van die Springbokspan in die suksesvolle era van hoofafrigter Peter de Villiers, toe John Smit se span onder andere ’n Drienasies titel in 2009 gewen het, terwyl hulle dieselfde jaar ook met die Britse en Ierse Leeus afgereken het.
Sy vennootskap met De Villiers het reeds begin in die era 2004-2006, toe De Villiers afrigter van die Suid-Afrikaanse o.21 span was en Liebel ook vir sy span se kondisionering en reabilitasie verantwoordelik was.

Foto: Twitter
Behalwe vir sy betrokkenheid by rugby het Liebel as voorste kenner van sportkondisionering en reabilitasie van sportbeserings ook met verskeie ander top sportmanne gewerk. Bekende krieketspelers, asook atlete en ander sportsterre het by hom kom aanklop vir hulp, veral wanneer hulle na ’n besering gesukkel het om weer op dreef te kom.
Hoewel hy op die hoogste vlak met die Springbokke gewerk het, was Liebel se passie vir fiksheid, kondisionering en reabilitasie van sportmanne ongekend en hy het nooit geskroom om op enige ander vlak uit te help waar sy dienste benodig is nie. Hy was by verskeie rugbyklubs in Pretoria betrokke, terwyl hy ook skole soos Hoërskool Eldoraigne en Laerskool Wierdapark in Centurion bygestaan het met die kondisionering en reabilitasie van leerlinge oor alle sportkodes.
Sedert sy afsterwe bekend geword het, stroom die huldeblyke, asook boodskappe van simpatie en medelye met sy naasbestaandes in op sosiale media. Liebel word allerweë beskryf as ’n “legende” in sy vakgebied en van oral is daar getuienis oor sy liefde vir mense en die wyse waarop hy omgegee het vir sportmanne op alle vlakke en van alle ouderdomme waarmee hy gewerk het.
Hy word oorleef deur sy vrou, Marina, asook twee seuns, ’n dogter en een kleinkind.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
