Skolerugby waarskynlik tot in eindeksamentyd gespeel
Die Departement van Basiese Onderwys het die groen lig gegee vir skolesport om voort te gaan en dít kan beteken dat veral matrikulante ’n baie besige skedule in die laaste termyn van hul skoolloopbaan kan hê.
Die kans is redelik goed dat rugbyspelers op skolevlak vanjaar tegelyk vir belangrike kragmetings én akademiese eksamens sal voorberei, aangesien die uitgestelde rugbyseisoen waarskynlik tot in Oktobermaand kan strek.
Groot opgewondenheid heers in die geledere van skole rugbyspelers en beamptes, nadat die regering die afgelope naweek aangekondig het dat skolesport op alle vlakke sedert hierdie week mag voortgaan.
Uiteraard word daar voorwaardes gestel ten opsigte van Covid-protokol en die vlakke van fiksheid wat van toepassing is by elke skool se spelers, terwyl toeskouers steeds by wedstryde verbode sal wees.
Skole-spelers wat tydens die afgelope inperkings wel voortgegaan het met kondisionerings-oefening, sal dalk gouer as ander weer op die veld wees. Die aanduidings is egter dat die meeste skole binne drie weke weer gereed sal wees om wedstryde te speel.
Die belangrike aspek is egter dat basies alle kompetise-vlakke – plaaslik en oor provinsiale grense heen – deur die Departement van Basiese Onderwys goedgekeur is.
Hoewel sommige prestigeryke toernooie, soos die jaarlikse Wildeklawer toernooi in Kimberley, reeds afgestel is, word daar verwag dat die VirSeker Beker toernooi moontlik hervat kan word. Dié toernooi vind plaas oor die grense van verskeie provinsies, soos Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes.
Uitsluitsel oor die moontlike voortsetting van die VirSeker Beker reeks word teen die einde van hierdie week verwag.
Matrikulante wat hul laaste kans kan kry om in die kleure van hul skool uit te draf sal veral ook opgewonde wees om deel te wees van tradisionele skole derbies, waarvan daar in Pretoria ’n hele paar bekendes is.
Dit lyk ook na ’n voldwonge feit dat provinsiale skole-toernooie soos die Cravenweek (slegs o.18) en die Grant Khomo-week (o.16) sal voortgaan. As die huidige status quo voortduur en inperkings nie weer verskerp word nie, sal dié toernooie in Oktbermaand plaasvind.
Hierdie scenario kan beteken dat matriekseuns wat aan die Cravenweek deelneem waarskynlik hul skoolboeke sal moet saamneem na waar die toernooi ookal plaasvind, aangesien hulle teen daardie tyd al besig kan wees met finale voorbereiding vir hul akademiese eindeksamen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
