Local sportSport

Hoërskool Waterkloof se sportburo open moderne nuwe ontwikkeling- en prestasiesentrum

Hoërskool Waterkloof se splinternuwe ontwikkeling- en prestasiesentrum, wat ’n goed toegeruste gimnasium, asook ander fasiliteite en programme vir die gespesialiseerde kondisionering van sportmanne òf die reabilitasie van beseerdes insluit, is onlangs op die skool se sportterrein geopen.

Of ’n mens dit nou wil weet of nie, die bestuur en bedryf van sport op die vlak van top skole in Suid-Afrika het deesdae baie naby aan ’n professionele omgewing beweeg.

In hierdie geval gaan dit beslis nie net oor die prestasie van skole of individue nie, maar eenvoudig oor die feit dat die tegnologie en wetenskap rondom sport soveel gevorder het, dat afrigters en sportbestuurders op skolevlak eenvoudig móét bybly om deelnemers behoorlik toe te rus vir kompeterende deelname.

Met die oog op hierdie feite het die Hoërskol Waterkloof onlangs hul splinternuwe ontwikkeling- en prestasiesentrum op die skool se sportterrein geopen.

Volgens Waterkloof se adjunkhoof (sport), Cobus van Dyk, het hulle tot die besef gekom dat dié moderne sentrum ononderhandelbaar is as die skool daarin wil slaag om sportprestasie volhoubaar te bestuur.

Die skoolhoof, Chris Denysschen, wat die amptelike opening van die sentrum behartig het, het gesê dat hulle getrou aan Waterkloof se visie, innoverend en revolusionêr wou dink en optree met die vestiging van die sentrum en daarom glo hulle dat die eindproduk met die bestes in Suid-Afrika en selfs oorsee kan vergelyk.

“Hoërskool Waterkloof is reeds een van die grootste Afrikaanse Hoërskole in die land en groei steeds. Daarom glo ons dat ons ingerig moet wees om sport en sportprestasie na die volgende vlak te kan neem,” het Denysschen gesê.

Volgens Denysschen is die sentrum nie die einde van hul nuwe visie nie en werk hulle byvoorbeeld reeds hard daaraan om ook die skool se droom vir ’n eie swembad te verwesenlik.

Van Dyk het gesê dat die gimnasium geriewe by die nuwe ontwikkeling- en prestasiesentrum bestuur sal word deur kundige sportwetenskaplikes, wat in die proses ook die verskillende afrigters by die skool sal bemagtig om hul taak met sukses te kan uitvoer.

Waterkloof se sportmanne en -meisies sal dus met hierdie sentrum nie net die heel beste bystand geniet wat kondisionering en oefenprogramme betref nie, maar ook ten opsigte van hul mediese welstand, nutrisie en reabilitasie ná beserings.

Die skool gaan van die sportwetenskaplike, Dirko Smuts, gebruik maak om die programme van spanne en individuele sportmanne te bestuur, terwyl die biokenetikus, Hanno de Villiers, sy kennis tot voordeel van die Klofie-sportmanne beskikbaar sal stel.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button