Local sportSchool sportSport

Hoërskool Oos-Moot se nuwe Sporthoof wil dié skool onder stad se bestes vestig

As die nuwe Sporthoof van die Hoërskool Oos-Moot se visie vir dié skool se sportlui kan realiseer, sal die Moot se leerlinge nie langer enige begeerte hê om groener wyvelde by groter en ryker skole in ander dele van die stad te gaan soek nie.

Dis lankal nie meer ’n geheim dat “ryk” skole uit Pretoria se Ooste talentvolle sportmanne en -meisies uit Pretoria se Moot en Noorde werf om hul hoërskool loopbane daar voort te sit nie.

As dit egter van die Hoërskool Oos-Moot se nuwe Sporthoof, Christiaan Gouws, afhang, gaan dié situasie binnekort begin verander. Hy het ’n baie duidelike plan om Oos-Moot, wat reeds skitterend op die sportveld presteer, na die volgende vlak te neem, sodat die ongelukkige persepsies oor die voordele om beurse by “ryk” skole te aanvaar, by ouers en leerlinge gebreek kan word.

Na herstrukturering onder die leiding van Oos-Moot se nuwe bestuur is Gouws as die skool se eerste voltydse Sporthoof aangestel. Onder hom dien ’n span van kenners en spesialiste wat feitlik alle kompeterende sportsoorte vir hoërskool kinders dek en dus seker maak dat dit nie nodig is vir ’n talentvolle kind uit die Moot om ander weivelde te soek as hy op die sportveld wil presteer nie.

Dié skool se splinternuwe Astro-hokkiebaan is ook in die finale stadium van voltooiing en sal sorg dat die Oosies se hokkiespelers volgende jaar die enigste skole-spelers in die Moot sal wees om die voorreg van só ’n wêreldklas fasiliteit te hê.

Daarby is Oos-Moot op die atletiekfront in 2022 terug in die A-bond van Pretoria, wat ook top teenstand verseker, terwyl die skool se wintersportsoorte soos rugby en netbal nie ’n tree hoef terug te staan vir enige prestige opponent nie.

Gouws glo dat sy taak as sporthoof vergemaklik word deur die ervaring wat hy opgedoen het tydens sy eie sportloopbaan waarin hy groot hoogtes bereik het, terwyl hy ook die teleurstelling en frustrasie van beserings en ander persoonlike terugslae ken. Dit het vir hom balans en perspektief gebring, wat hy weer aan leerlinge kan oordra.

Hy het in Bethlehem in die Oos-Vrystaat grootgeword, maar weens sy sporttalent was dit onvermydelik dat hy sy hoërskool loopbaan aan Grey Kollege in Bloemfontein sou voltooi. Daar het hy as skrumskakel latere Springbokke uit die eerstespan gehou, maar ontydige beserings het hom telkens van groter erkenning beroof.

Na skool het hy vir die Kovsies se o.21 span uitgedraf, maar toe hy as baie jong speler die geleentheid kry om by Leinster in Ierland se akademie aan te sluit, het hy dit aangegryp.

Beserings en die familie-situasie na sy pa se afsterwe het hom egter voortydig na Suid-Afrika laat terugkeer en toe dit duidelik word dat sy eie loopbaan as speler weens die aard van sy beserings verby is, het hy vanuit die korporatiewe sektor by afrigting en skolerugby betrokke geraak.

Sukses as afrigter het gevolg toe hy in 2016 die Ligbron Akademie in Ermelo se eerstespan tot Grootskole kampioen brei.

Daarna keer hy terug na Betlehem om rugbydirekteur by Hoërskool Voortrekker te word. Ook hier behaal hy sukses toe dié bekende skool die Griffons ligas oorheers en agt uit die skool se nege spanne as kampioene gekroon word in die bekende Wesgrow reeks.

Gouws se sukses het die kollig op hom in die provinsie gegooi en op baie jong ouderdom word hy in 2019 die Griffons skole se afrigter by die Akademieweek.

Intussen bou hy sy kennis en ervaring uit deur oral oor die wêreld te reis as afrigter van vyftienman- én sewesrugby spanne.

Verlede jaar is hy deur Marlouw Landbou na dié trotse landbouskool naby Cradock gelok, maar toe slaan Covid toe en skolesport kom tot stillstand.

Met die geleentheid by Oos-Moot het Gouws besluit dat hy gereed is vir ’n uitdaging in die stad, maar hy wou opsetlik nie die “makliker” pad by ’n groot, ryk skool aandurf nie.  Vir hom gaan die uitdaging om van Oos-Moot ’n ware top sportskool te maak gepaard met sy passie om opheffingswerk te doen en ware talent te ontwikkel.

Hy besef egter dat daar sekere ononderhandelbare voorwaardes is om in die modere era sukses te behaal by ’n skool. Daarom het hy onmiddelik begin werk aan die omstandighede waarin die skool se sport bestuur sal word. So byvoorbeeld sal die Oos-Moot se gimnasium op standaard gebring word, die netbalbane is oorgedoen, en saam met die nuwe gimnasium sal ’n sportwetenskaplike aangestel word om die kondisionering van die skool se sportlui op die hoogste standaard te kry.

Gouws het aan Rekord gesê hy sal nie skroom om sy wye netwerk van kontakte ten bate van Oos-Moot se sportspanne te gebruik nie.

Sy visie is uiteindelik ’n skool wat ten opsigte van fasiliteite, logistieke ondersteuning, kondisionering én afrigting op só ’n hoë standaard opereer, wat die Hoërskool Oos-Moot permanent en op alle terreine met die heel bestes sal kan kompeteer.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button