Oos-Moot atlete lyk reg vir puik post-Covid seisoen in 2022
Hoërskool Oos-Moot se atlete het verlede week gewys dat hulle volgende jaar met ’n groot aanslag kan kom by Pretoria se A-bond byeenkoms, toe daar skitter-prestasies gelewer is by ’n spesiale byeenkoms op die skool se terrein.
Nadat die skole-atletiekseisoen aan die begin van hierdie jaar basies in geheel as gevolg van Covid regulasies gekanseleer is, het daar ’n behoefte ontstaan dat atlete wel hier aan die einde van die skooljaar ’n geleentheid moet kry om kompeterend deel te neem aan dié sport.
Verskeie bekende byeenkomste is die afgelope weke oral oor Gauteng afgehandel, terwyl sommige skole ook eie inisiatief gebruik het om vir atlete geleenthede te skep.
Die Hoërskool Oos-Moot het ook onlangs ’n tuisbyeenkoms aangebied, waatydens hul bure uit die Moot, Hoërskool Wonderboom, sowel as die top sportskool uit die Oos-Rand, Hoërskool Dr. EG Jansen, as gaste deelgeneem het.
Vir die atlete was hierdie byeenkoms ’n geleentheid om huself vir oulaas teen goeie kompetisie te toets, voordat die seisoen onderbreek word vir die eindeksamens en Desembervakansie.
Gesien in die lig van die moeilike omstandighede waarin atlete deur die jaar moes oefen, het hierdie byeenkoms tog ’n paar puik prestasies opgelewer.

Foto: Verskaf
Vyf byeenkoms-rekords het in die slag gebly tydens die driehoekige stryd tussen die twee bure en die besoekers uit Boksburg.
In die o.16 ouderdomsgroep het Matthew Brunette sommer twee keer die rekordboeke herskryf. Eers het hy die 800m in 1:58,01 afgelê en daarmee die ou rekord met meer as vyf sekondes verbeter. Daarna het hy ook die 1500m in ’n nuwe rekordtyd van 4:17,01 gehardloop. Dit is self ’n reuse verbetering op die vorig rekord, wat op 4:21,94 gestaan het.
Nog ’n o.16 seun, Gert-Hendrik Grobler, het die 400m in ’n nuwe rekordtyd van 52,95s genael.
Aretha de Beer is nog o.14 en sy het gewys dat sy in die toekoms dopgehou moet word deur die 100m en 200m maklik te wen. Haar tyd van 26,82s in die 200m was ’n nuwe rekord.
Een van Oos-Moot se gevestigde sterre, Micyla Botha, het eers die spiesgooi vir meisies o.16 met 45,85m gewen, waarna sy ’n nuwe rekord in die verspring opgestel het met haar poging van 5,32m.
Ziane du Plessis het die dogters o.15 gewigstoot item nou wel nie met ’n rekord afstand gewen nie, maar haar 12,87m was skitterend en 878 punte op die ABSA-tabel werd.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
