Local sportSchool sportSport

Midstream Kollege maak skoonskip by Pretoria B-bond interhoër

Midstream College, wat vanjaar terug was by die Pretoria B-bond atletiek interhoër, nadat hulle in 2020 ’n vinnige draai in die A-bond gemaak het, was te goed vir hul sewe teenstanders toe vanjaar se byeenkoms verlede week op die nuwe Pilditch baan aangebied is.

Die Pretoria B-bond atletiek interhoër staan soms in die volksmond ook bekend as die Noord-teen-Suid interhoër, vanweë die feit dat die meerderheid deelnemende skole òf uit die suide van die stad in Centurion kom, òf afkomstig is uit die streek noord van die Magaliesberg.

Nadat daar in 2021 geen atletiekbyeenkomste in die amptelike skole-seisoen was nie, het die interhoër byeenkomste vanjaar voortgegaan, hoewel geen skoolkinders as toeskouers toegelaat is nie. Slegs atlete en ’n beperkte aantal volwasse toeskouers kon die geleenthede bywoon.

Hierdie toedrag van sake het wel die gees op die paviljoene beïnvloed en die gebruiklike gees-beker kon nie toegeken word nie, maar op die baan was die atletiek soos gewoonlik uiters mededingend.

Midstream College (2684 punte) het uiteindelik redelik maklik met hul teenstanders afgereken. In die tweede plek was Hoërskool Centurion met 2232 punte en daarna volg Hoërskool Overkruin (2227), Hoërskool Eldoraigne (2198), Hoërskool Pretoria-Noord (1966), Hoërskool Akasia (1850), Hoërskool Brits (1815) en Sutherland High School (1767).

Nog ’n merkwaardigheid rondom Midstream College se vertoning is die feit dat beide hul seuns- en dogters dié onderskeie geslags-kategorië gewen het, met presies dieselfde puntestand (1342 punte elk).

Vir die res lyk sake anders. In die seuns kategorie was Overkruin (1101) tweede, gevolg deur Centurion (1091), Eldoraigne (1007), Pretoria-Noord (1006), Sutherland (1003), Akasia (975) en Brits (846).

Naas Midstraem College se dogters was Eldoraigne (1191) in die tweede plek, gevolg deur Centurion (1141), Overkruin (1126), Pretoria-Noord (960), Brits (951), Akasia (875) en Sutherland (764).

Altesaam sewe byeenkomsrekords is tydens die B-bond interhoër verbeter, terwyl drie atlete werklik uitstaande vertonings gelewer het, wat volgens die Atletiek Prestasie Evaluasie (APE) tabel selfs as wêreldklas vertonings gereken kan word.

Chirsté Loedolff van Hoërskool Centurion se nuwe rekord poging van 38,15m in die diskus vir dogters o.15 was 900 punte op die APE tabel werd, terwyl sy ook as beste junior veldatleet én Junior Victrix Lodorm aangewys is.

Tian Stoltz, ’n o.17 atleet van Hoërskool Overkruin, was waarskynlik die groot ster van die byeenkoms. Hy het die diskus (o.17) met ’n afstand van 56,88m (940 punte) gewen, terwyl hy die hoogste punte op die APE tabel (986) vir die dag behaal het met sy 18,97m in die gewigstoot.

Stoltz is as Senior Victor Lodorm én beste seuns veldatleet van die byeenkoms gekroon.

Die byeenkoms is onder moeilike omstandighede op skitterende wyse deur Suterland High School aangebied. Die program het seepglad verloop en daar kan sonder skroom gesê word dat dié byeenkoms vanjaar die beste van die top drie interhoër byeenkomste in Pretoria was.

Hoewel daar nie skoliere as toeskouers toegelaat is nie, het die B-bond vanjaar tog ’n aangename atmosfeer gehad. Die besluit om die bekende Thabo Molete as een van die aankondigers te betrek, het baie hiermee te doen gehad.

Volgens ’n vooraf ooreengekomde konsensus, wat waarskynlik weens die invloed van die Covid-regulasies bereik is, sal geen promosie/relegasie vanjaar plaasvind nie, wat beteken dat dieselfde agt skole mekaar volgende jaar weer in die Pretoria B-bond interhoër sal aanvat.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button