Local sportSchool sportSport

Wonnies wys hul atletiek-krag by Pretoria C-bond interhoër

Pretoria se C-bond atletiek interhoër is verlede week op die Pilditch baan in die Weste van die stad aangebied met skole vanoor die lengte en breedte van die Tshwane Metro wat mekaar die stryd aangesê het.

Die Hoërskool Wonderboom het verlede week op die Pilditch Stadion in Pretoria-Wes gewys dat hul ’n skool op ’n missie is, toe hulle die Pretoria C-bond interhoër met gemak gewen het. Soos die spreukwoord sê, was dit derde keer skeepsreg vir Wonderboom, wat in 2019 en 2020 met die tweede plek tevrede moes wees by die C-bond interhoër. Daar was geen amptelike skole-atletiek in 2021 nie. Hoewel daar sprake is dat daar weens die invloed van die Covid-krisis nie volgende jaar promosie/relegasie van skole tussen bonde gaan wees nie, kan Wonderboom ná hierdie prestasie ná ‘n afwesigheid van vier jaar waarskynlik in 2023 weer deel wees van die B-bond.  Wonderboom se oorwinning was oortuigend, toe hulle met 2023 punte ’n volle 211 punte voor die volgende teenstander, Hoërskool Gerrit Maritz, geëindig het. Die Gerries het op 1812 punte tweede geëindig, gevolg deur Curro Hazeldean (1788), Hoërskool Erasmus (1655), Uitsig High School (1608) en Rietondale High School (1587). HTS John Vorster, wat nie met ’n volledige span aan die dogters-kompetisie deelneem nie, het op 1200 punte geëindig, gevolg deur nog twee skole wat nie deel was van die gesamentlike spankompetisie nie. Dit is Pretoria Boys High School (938) en Pretoria High School for Girls (821).

Hoewel die standaard van die atletiek by hierdie byeenkoms uiteraard nie so hoog soos die A-, en B-bonde is nie, was die kompetisie straf, soos die puntetellings aandui. Agt byeenkomsrekords het ook in die slag gebly tydens die dag se aksie. Hoewel nie een van die atlete meer as 900 punte opdie Atletiek Prestasie Evalusie (APE) tabel kon verdien nie, was daar verskeie uitsaande prestasies. Die dag se beste atleet was ongetwyfeld Neo Dikgale van Curro Hazeldean. Dié o,19 seun was verantwoordelik vir twee nuwe rekords toe hy die verspring met ’n afstand van 7,12m en die driesprong met 13,99m gewen het. Sy afstand indie verspring was 846 punte op die APE tabel werd. Hoewel Bradley Nkosi van Uitsig se 15,02s in die 100m hekkies nie ’n rekord was nie, het hy ’n stewige 821 punte op die APE tabel daarmee verdien. Die byeenkoms is met groot sukses aangebied deur Curro Hazeldean en dit sal met reg in die toekoms beskou kan word as die eerste byeenkoms waarmee Pretoria se skole ná vier jaar kon terugkeer na die Pilditch stadion, nadat dié bekende fasiliteit se baan deur die Stadsraad van Pretoria opgegradeer is.  

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button