Kondisionering van sportlui nou top prioriteit by Oos-Moot
Met die wintersport seisoen wat eersdaags in volle swang sal wees, is die Hoërskool Oos-Moot gereed om aan hul sportlui die beste moontlike kondisionering te verskaf wat hulle in staat sal stel om teen die bestes in enige liga te kan kompeteer.
Skolesport is steeds stelselmatig besig om terug te keer na normaal, nadat die Covid-krisis die afgelope twee jaar veroorsaak het dat nie veel aksie op die sportvelde van skole kon plaasvind nie.
By die Hoërskool Oos-Moot is die ratte van dié skool se wintersport-masjien reeds geolie en daar word met opgewondenheid uitgesien na die seisoen wat voorlê.
Rekord het onlangs berig dat Oos-Moot se splinternuwe astro hokkiebaan vanjaar ’n groot verskil in die lewens van die skool se hokkiespelers gaan maak. Dié fasiliteit is egter nie die enigste wat bydra tot die nuwe gees van opwinding en afwagting by leerlinge van Oos-Moot nie.
Oos-Moot se nuwe Sporthoof, Christiaan Gouws, het enkele maande gelede belowe dat hy ’n omgewing wil skep waarin sportlui by dié skool kan groei en waar hulle optimaal voorberei kan word om in die top skoleligas hul man te staan.
Gouws het intussen daad by die woord gevoeg. Reg langs die nuwe hokkiebaan staan daar nou ook ’n nuwe gimnasium, waar die kondisionering van Oos-Moot se sportlui op ’n vlak behartig sal kan word wat dié skool nog nie voorheen beleef het nie.
Intussen is die oud Bloubul- en Springbok haker, Danie Coetzee, deur die skool aangestel as die man wat na die kondisionering van alle sportmanne en -meisies sal omsien. Coetzee het aan Rekord gesê dat hy reeds tydens die laaste fase van sy eie rugbyloopbaan begin het om hom as afrigter en kondisionering-spesialis te bekwaam. Nadat hy destyds die Bulle verlaat het, het hy tussen 2005 en 2010 ses seisoene in Europa deurgebring, waar hy in 68 wedstryde vir die London Irish klub uitgedraf het.
Hoewel Coetzee hoofsaaklik op die kondisionering van spelers in alle sporte sal spesialiseer, sal hy uiteraard ook vir Gouws en ander afrigters op die rugbyveld bystaan, veral met die tegniese aspekte van voorryspel.
Coetzee sal by Oos-Moot se nuwe sport-instituut bygestaan word deur die biokenetikus, Amy Putter. Sy sal ’n praktyk op die skool se terrein reg langs die nuwe gimnasium bedryf, vanwaar sy Oos-Moot se sportlui sal bystaan.
Putter het heelwat ervaring as biokenetikus, maar ook in die hantering van kondisionering en kragwerk vir sportlui. Sy was voorheen betrokke by Tukkies en die Hoërskool Garsfontein, waar sy onder andere met netbal- en hokkiespelers gewerk het.
Oos-Moot se hokkiespelers kan ook vanjaar uitsien na die insette van hul nuwe hokkie-direkteur, Dario Lourenco. Dié ervare provinsiale hokkiespeler droom self daarvan om die skool se hokkie-standaard na ’n volgende vlak te neem en die trofeekas te begin vul.
Dit is dus duidelik dat Gouws hou by sy belofte. Daar is geen rede waarom rugby-, hokkie- en netbalspelers van Hoërskool Oos-Moot nie in die toekoms op gelyke voet met die beste skole in die land kan meeding nie. Hulle sal immers top afrigting ontvang en boonop nie ’n tree hoef terug te staan vir enigiemand ten opsigte van kondisionering nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
