Plaaslike skole maak weer hul stem dik by Noord-Suid skolerugby toernooi
Hoewel die plaaslike deelnemers van Pretoria aan die Noord-Suid skolerugby toernooi baie beter as verlede jaar presteer het, lê daar nog harde werk vir sommige van die spanne voor as hulle die seisoen se ligabepalings met selvertroue wil tegemoedgaan.
Sedert die die Noord-Suid Skolerugby toernooi in 2014 deur oud Springbok Pieter Rossouw en die gewese Bloubul spanbestuurder, Wynie Strydom begin is, het dit gegroei tot een van die mees prestigeryke skolerugby toernooie in die land.
Nadat die toernooi in 2020 afgelas moes word weens die uitbreek van Covid-19, is daar verlede seisoen te midde van onsekerheid en strawwe regulasies besluit om wel voort te gaan met dié skolerugby fees, veral omdat dit sou saamval met Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) se eeufeesvierings.
Ongelukkig was daar verlede jaar ernstige stremmings en negatiewe omstandighede, wat ’n groot demper geplaas het op die verloop van dié toernooi en die uitslae van wedstryde.
Een van die kenmerke van die Noord vs Suid toernooi in 2021 was dat die skole uit die Wes-Kaap se voorbereiding en kondisionering op ’n baie meer gevorderde stadium was as die skole uit Gauteng. Die grootste rede hiervoor was dat die Kaapse skole toe reeds heelwat meer vryheid geniet het ten opsigte van Covid regulasies, terwyl die plaaslike skole onder baie streng toesig van die plaaslike onderwysdepartement basies onfiks en grootliks onvoorbereid aan die toernooi moes deelneem.
Die gevolg van hierdie frustrerende omstandighede was dat die skole uit die suide van die land verlede jaar byna skoolskip gemaak het en 29 van die 36 kragmetings by die toernooi gewen het, terwyl enkele plaaslike skole selfs weens Covid protokolle moes onttrek aan die fees. Gure weer het boonop twee dae van die 2021 toernooi verder ontsier.
Vanjaar was sake egter meer gelyk ten opsigte van die skole se geleentheid om voor te berei en ’n paar van die plaaslike skole het hierdie geleentheid gebruik om te wys waartoe hulle inderdaad in staat is.
Dit was veral die gasheer skool, Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) en Hoërskool Garsfontein, wat aan die Kapenaars gewys het dat hul oordadige gespog na verlede jaar se toernooi inderdaad effens onvanpas was.
Affies se personeel en rugby-organiseerders het nie net ’n reuse sukses gemaak van die aanbieding van vanjaar se toernooi nie, maar die Wit Bulle het op die veld ook gewys dat hulle hulself vanjaar weer tussen die land se beste rugbyskole gaan vestig.
Op die tweede dag van aksie het Affies die oë laat rek deur Paul Roos Gimnasium met 24-18 te klop. Kenners van skolerugby het twee jaar lank na dié kragmeting uitgesien, aangesien die twee spanne mekaar in 2020 reeds in ’n wedstryd sou aanvat wat ’n groot deel van Affies se eeufeesvieringe sou uitmaak.
Dit was die eerste keer dat Affies met Paul Roos kon afreken sedert hul tweestryd in 2016, wat met 24-17 deur die Pretorianers gewen is. Daarna het die seuns van Stellenbosch die bordjies in 2017 met ’n oorwining van 21-14 verhang en sedertdien kon die twee skolerugby-reuse nog nie weer kragte meet nie.
Die gasheer het vanjaar se Noord-Suid toernooi verlede Dinsdag op feestelike wyse afgelsuit deur Hoërskool Durbanville met sprankelrugby behoorlik pakslae te gee. Die eindtelling was 73-6 in Affies se guns, nadat die Wit Bulle elf keer agter die doellyn gaan kuier het in dié wedstryd.
— Die ander plaaslike skool wat besonder goed van hulself rekenskap gegee het tydens verlede week se Noord-Suid toernooi is Hoërskool Garsfontein. Die Garsie Bere het in hul eerste wedstryd behoorlik amok gemaak deur HTS Drostdy met 67-0 kaf te draf.
Garsfontein het tydens hierdie dreëfees elf keer gaan druk, nadat hulle elke moontlike aspek van die wedstryd oorheers het.
In hul tweede wedstryd op die voorlaaste dag van die toernooi het Garsfontein baie karakter gewys deur met 19-elk gelykop te speel in ’n spannende en taai stryd teen Hoër Jongenskool Paarl (ook bekend as Paarl Boys High).
Garsfontein het weer gewys dat ’n wedstryd eers verby is as die eindfluitjie blaas en hulle het die gelykmakende punte in die laaste sekondes van die wedstryd aangeteken.
Ná Affies en Garsfontein se vertonings by die Noord-Suid toernooi is daar reuse belangstelling onder skolerugby liefhebbers vir die tweestryd wat eerskomende Saterdag tussen dié twee rugbykragte van Pretoria wag. Dit sal die eerste keer in meer as ’n dekade wees dat dié twee skole kragte meet, nadat hulle in 2010 laas teen mekaar gespeel het.
— Hoërskool Waterkloof het gemengde welslae behaal tydens die toernooi, maar beslis ook gewys dat hulle vanjaar deur niemand onderskat sal kan word nie.
Hoewel Waterkloof vroeër in die seisoen reeds twee vriendskaplike wedstryde teen Hoërskool Montana en Hoërskool Transvalia gewen het, was hulle in hul eerste kragmeting op verlede week se Noord-Suid toernooi nog effens verroes. Tog het hul oomblike van baie goeie spel gehad en redelik maklik (29-11) met Welkom Gimnasium afgereken.
Ongelukkig vir Waterkloof het hulle vir hul tweede kragmeting van die toernooi ’n baie gedugte teenstander in Grey Kollege van Bloemfontein gehad. Die Klofies het egter baie durf en karakter gewys en nooit teruggedeins of oorgegee nie, ten spyte van die feit dat die Vrystaters hulle in die meeste aspekte van die spel oorheers het.
Waterkloof se verdediging in dié wedstryd was vreesloos, maar hulle kon ongelukkig nie al die gate toestop nie. Grey Kollege het nege drieë ingeryg, maar Waterkloof het self vyf keer die doellyn gehaal, wat verseker het dat dié westryd een van die opwindendstes tydens die toernooi was.
Die eindtelling tussen Waterkloof en Grey Kollege was 57-37 in die Bloemfonteins manne se guns.
— Hoërskool Menlopark was waarskynlik die teleurstelling van die toernooi, gesien uit die oogpunt van plaaslike ondersteuners.
Hoewel Menlopark die huidige houer is van die VirSeker Beker vir Makro skole, nadat hulle die laaste pre-Covid toernooi in dié liga in 2019 gewen het, sal hulle dramaties moet verbeter as hulle vanjaar weer onder die bestes gereken wil word.
Menlo het teen dieselfde teenstanders as Garsfontein te staan gekom tydens die toernooi. Op dag een het hulle egter pak gekry toe Hoër Jongenskool Paarl (Paarl Boys High) hulle met 31-6 geklop het.
Dit was veral Menlopark se substandaard verdediging wat uitgestaan het tydens dié wedstryd.
Op die voorlaaste dag van die toernooi het Menlopark teen HTS Drostdy gespeel en toe hulle kort na rustyd die voortou neem in dié wedstryd, wou dit lyk of hulle die nederlaag teen Paarl Boys High oorkom het.
Menlo se probleme het egter agterlangs gelê, met veral hul skakelpaar wat gesukkel het om beheer oor die wedstryd te neem. Verkeerde opsies deur verskeie agterspelers wanneer hulle op die aanval was, het Menloparrk ook baie momentum en slefs punte gekos.
Uiteindelik het HTS Drostdy met 31-15 gewen, nadat hulle in die laaste sewe minute twee keer gaan druk het.
Menlopark het regtig vertoon soos ’n span wat nog harde werk voor het — veral wat verdediging en samespel betref — as hulle enige teenstander in die komende seisoen in ligabepalings wil klop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
















