Local sportSchool sportSport

Garsfontein skoolseun jag oud wêreldkampioen se hoogspring rekords

’n Jong hoogspring atleet van Pretoria het reeds bewys dat hy die vermoë en die talent het om binnekort ’n 17-jaar oue Suid-Afrikaanse rekord in die hoogspring te verbeter.

Suid-Afrika het in die 17 jaar  wat verloop het sedert Jacques Freitag in Maart 2005 sy Suid-Afrikaanse- en Afrika rekord opgestel het, nog nie regtig weer wêreldklas hoogspring atlete opgelewer nie.

Ja, daar was hier en daar ’n opflikkering en hoogspringatlete wat belofte getoon het, maar die 18-jarige Brian Raats, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria, is die eerste hoogspringer wat die afgelope drie seisoene werklik konstant wêreldklas vertonings lewer in sy ouderdomsgroep.

Kenners van hoogspring is dit eens dat, as Raats stelselmatig verbeter soos hy die afgelope drie seisoene verbeter het, hy binnekort ’n bedreiging gaan inhou vir die meeste van die legendariese Freitag se rekords.

Sedert Raats in November 2020 as 16-jarige die eerste keer die 2-meter mylpaal bereik het as hoogspringer, is hy waarskynlik Suid-Afrika se mees konstante pretseerder in dié tegnies moeilike atletiek-item.

Hy het vanjaar reeds by verskeie geleenthede sy persoonlike beste van 2.20m herhaal, maar dis waarskynlik ’n kwessie van tyd voor hy die volgende mylpaal gaan bereik. En wie weet, dalk is ’n SA- of Afrika rekord vanjaar nog binne sy bereik.

Die nuwe SA junior hoogspring kampioen, Brian Raats, se planne is reeds agtermekaar tot by die Olimpiese Spele van 2024 en hy en sy afrigter werk reeds hard om sy doelwitte een vir een te bereik.
Foto: Koos Venter

As laerskoolseun was Raats soos so baie Afrikaanse seuns ’n bedrewe en veelsydige sportman, wat ook op die rugbyveld uitgeblink het. Maar dit was op die atletiekbaan waar hy regtig tuisgevoel het. Nie net as hoogspringer nie, maar ook as naelloper en verspringer.

Toe hy egter drie jaar gelede besef dat twee meter in die hoogspring item binne sy bereik raak, het hy al die ander sport en items gelos en op hoogspring begin konsentreer.

Maar toe kom die terugslae en die uitdagings. Eers was daar die ernstige enkelbesering, waar hy ligamente geskeur het. Toe die dokters daarna vir hom sê dat sy atletiekdae nou eers verby is, het dit hom net meer gemotiveer om dinge na die volgende stap te neem.

Teen die einde van 2020 was hy terug op die baan en het hy die magiese twee meter oorwin deur op daardie hoogte oor die dwarslat te seil.

Verlede jaar het hy met ’n sprong van 2,16m by die AGN kampioenskap gekwalifiseer om na die Junior Wêreldkampioenskap in Kenia te gaan. Daar het hy ’n vyfde plek behaal met ’n sprong van 2.16m.

Kort daarna verbeter Raats sy eerste nasionale rekord toe hy die SA o.17 rekord opstoot na 2.20, die hoogte wat hy sedertdien al vele keer bereik het, maar wat steeds sy persoonlike beste is.

Vanjaar het hy met groot planne begin en in die afseisoen baie hard gewerk aan krag en tegniek.  Hoewel die plan was om die afgelope naweek by die SA junior kampioenskap op dié persoonlke beste te verbeter, het die ongure weer hom nie ’n groot guns gedoen nie. Hy is wel as SA o.20 kampioen gekroon, maar hy moes ongelukkig met ’n wensprong van 2,06 tevrede wees.

Dis gelukkig nie die einde van die wêreld nie en Raats kan steeds ’n aanslag maak op die SA skole/junior rekord van 2.21m. Hy wéét hierdie rekord is binne sy bereik, want hy het tydens ’n oefening vanjaar reeds 2.26 gspring.

Raats is later vanjaar ook op pad na Europa, waar hy gaan deelneem. Dan is daar nog die junior wêreldkampioenskap in Augustus vanjaar in Colombië, waar hy ook kan probeer om ‘n paar rekords aan te durf.

Volgende jaar staan sy kop Potchefstroom toe, waar hy in die Onderwys wil studeer. En dan is daar natuurlik weer die Olimpiese Spele van 2024. Om hiervoor te kwalifiseer moet Raats ten minste 2,28m spring.

Al hierdie doelwitte is natuurlik baie bereikbaar. Enigiemand wat Raats al in aksie gesien het weet dat dié 18-ajrige jongman – wat self op 18 reeds 1,91m in sy sokkies staan – reeds die fiskieke vermoë, die temprament én die selfvertroue van ’n kampioen het. Onthou dus sy naam. Ons gaan nog baie hoor en lees van Brian Raats.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button