Loftus se geliefde “Tannie Saartjie” lê die tuig neer na ‘n halwe eeu
As daar ooit iemand deur die hekke van Loftus Versfeld beweeg het wat aanspraak kan maak om as bloubloed rugby-adel in die geskiedenisboeke opgeteken te word, dan is dit Saartjie Olivier, wat ná ’n verbintenis van 50 jaar met die Blou Bulle onlangs amptelik afgetree het.
Haar oorlede eggenoot het provinsiale rugby gespeel vir die destydse Suidwes-Afrika en later met groot sukses op klubvlak afgerig, haar oudste seun was ’n Springbok- en Bloubul legende en haar ander seun het in die Carltonbeker vir Tuks uitgedraf, terwyl haar swaer, Jan Ellis, boonop een van die heel grootste Suid-Afrikaanse rugbylegendes van die pre-1992 era was.
Dis egter nie net op die rugbyveld waar mense rugbylegendes word nie en lank voor vrouerugby die nuwe geur van die maand geword het, was hierdie merkwaardige vrou reeds ’n rugbylegende in eie reg, hoewel sy as jong meisie eerder op die hokkieveld uitgeblink het.
Ontmoet Saartjie Olivier. As daar ooit iemand deur die hekke van Loftus Versfel beweeg het wat aanspraak kan maak op behandeling as bloubloed rugby-adel, dan is dit sy.
Die kollig het onlangs weer op Olivier geval toe die Bulls haar vereer het vir haar lewenslange toewyding aan dié unie en aan rugby as sodanig. Sy is vereer, want ná ’n loobaan van ’n ongelooflike 50 jaar in diens van die Blou Bulle, het Saartjie Olivier onlangs finaal halt geroep en amptelik afgetree.

Foto: Koos Venter
Olivier, of sommer “Tannie Saartjie”, soos duisende oud spelers, rugby-administrateurs en Bloubul ondersteuners haar deur die jare leer ken het, se lewenslange reis met rugby het in die laat 1960’s in Windhoek begin, toe sy haar oorlede man, Theuns, op ’n funksie ontmoet het. Sy was destyds ’n jong onderwysers en kranige hokkiespeler, pas terug van haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was die jong skrumskakel agter die pak harde voorspelers van die destydse Suidwes-Afrika span, wat daardie jare nog deel was van Suid-Afrika se provinsiale rugby-opset.
Hoewel hulle albei – drie jaar uitmekaar – aan Hoërskool Windhoek gematrikuleer het, het hulle mekaar eers ’n paar jaar na skool amptelik ontmoet. Die liefde het egter vinnig geblom en ná hul troue is Theuns deur sy werkgewer na Pretoria verplaas.
Die jong egpaar Olivier het in die hoofstad kom vestig en Theuns – wie se suster, Heila, met die Springbok legende, Jan Ellis, getroud was – het klubrugby vir die destydse Adelaars in die Moot van Pretoria gespeel.
Intussen is die Oliviers se twee seuns, Jacques en Morné gebore. In 1972, ’n jaar na laasgenoemde se geboorte, het Saartjie vir Robert Denton, die eerste voltydse sekretaris van die Blou Bulle Rugby-unie, via rugbykringe ontmoet en hy het haar gevra om met die groeiende administrasie van die Bulle te kom help. Dít het sy vir twee jaar lank só deeglik gedoen, dat Denton haar in 1974 in ’n permanente pos aangestel het.
Só het die legende van Saartjie Olivier en Loftus Versfeld begin. Sedertdien het sy álles gesien, gehoor en beleef wat in die wêreld van rugby moontlik is. Behalwe vir die feit dat haar man eers ’n puik klub-speler by Adelaar en daarna ’n uitstaande afrigter by Tuks was, kon sy later as ma met trots beleef hoe haar twee seuns van kaalvoet Loftus-baljoggies vorder tot dit wat hul later bereik het in hul eie rugbyloopbane.
Deesdae is sy net so trots op kleinseun Jacques Jr., wat ook in die Carltonbeker liga vir Tuks op senter sy staal wys.
Intussen het sy in 50 jaar honderde jong sterre gesien kom en gaan, terwyl Loftus Versfeld as moderne stadion en professionele kompleks sedert 1977 stuk-vir-stuk kontant gebou is onder die bestuur van legendes soos Denton, Mac van Vuuren, Stefan Pretorius en Barend van Graan.
Sy het oor die jare skouer geskuur en ’n vertroueling geword vir supersterre soos Frik du Preez, Thys Lourens, Naas Botha, Burger Geldenhuys, Johan Heunis, Joost van der Westhuizen en honderde ander. Daarbenewens kon sy die sukses van afrigetrs soos Brig. Buurman van Zyl, dr. John Williams, Heyneke Meyer en Frans Ludeke eerstehands beleef.
Vra mens haar om een of twee spelers of dalk ’n spesifieke wedstryd oor die afgelope 50 jaar uit te sonder, sê sy gou dis eenvoudig onmoontlik. Hoe ook dan nou anders, as ’n mens in ag neem dat sy vir ’n unie gewerk het wat in haar era as werknemer 20 Curriebekers en drie SuperRugby titels gewen het en sowat 80 Springbokke opgelewer het.
Ook die administrasie van rugby het in haar leeftyd gevorder van die dae toe elke toeskouer-kaartjie met die hand getel en gesorteer is, tot die hedendaagse tegnologiese era, waar dinge baie makliker gedoen word.
Hoewel sy deesdae amptelik afgetree is, kan Olivier nie heeltemal daarin slaag om Loftus se stof af te skud nie. Sy help nog uit met stadion toere en doen voorbereiding vir die beplande Bloubul museum, wat in die Frik du Preez-paviljoen aan Loftus se noordekant gevestig gaan word.
Dan is daar nog Loftus se rondloper katte, wat ook ’n spesiale plekkie in dié merkwaardige vrou se hart het en wat staatmaak op die kos wat sy so gereeld vir hulle aandra.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.








