Centurion onttroon Naka Bulle in spannende Carltonbeker eindstryd
Die World Sports Betting Carltonbeker staan sedert Saterdagaand vir die derde keer ooit in die klubhuis van die Centurion rugbklub, nadat hulle die verdedigende kampioen, ABE Midas Naka Bulle, vroeër die middag in die eindstryd onttroon het.
Centurion rugbyklub se seisoen het Saterdag op ABE Midas Naka Bulle se tuisveld in die Moot op sensasionele wyse in glorie geëindig, toe hul veteraan linkervleuel, Curtley Brinkhuis, twee minute na die toeter reeds geblaas het, sierlik in die hoek oorgeduik het om die wendrie vir sy span te druk.
Daarmee het die telling in dié klipharde, spannende World Sports Betting Carltonbeker eindstryd op 27-26 in die guns van Centurion gestaan en die doelskop was irrelevant, want die eindfluitjie sou daarna blaas.
Riaan Brand en Christo Bezuidenhout se troepe het dit wéér gedoen toe hulle die verdedigende kampioen, wat drie weke gelede nog onoorwonne was in vanjaar se toernooi, ’n tweede keer geklop het. Hierdie keer was dit in die eindstryd en die gesogte World Sports Betting Carltonbeker staan vir die eerste keer sedert 2016 weer in Centurion.
Om alles te kroon vier Centurion vanjaar hul 50ste bestaansjaar, wat die oorwinning soveel meer betekenisvol sal maak vir die geskiedenisboeke.
Min kenners het Centurion ’n kans gegee om ABE Midas Naka Bulle in die eindstryd weer te verras, maar Brand en Bezuidenhout se wedstrydplan het uiteindelik sukses gebring.

Foto: Frans Lombard
Eerstens het hulle die eindstryd benader soos ’n eindstryd benader moet word. Elke moontlike geleentheid om punte aan te teken, is gebruik. Centurion se losskakel Gaybrin Smith het boonop sy skopskoene aangehad en die 12 punte wat hy in die eerste helfte met strafdoele aangeteken het, was deurslaggewend.
Daarbenewens het Centurion, wat in die skrums en lynstane gesukkel het, die afbreekpunte met mag en mening geteiken en ABE Midas Naka Bulle van baie momentum beroof met al die besit wat in dié faset afgeneem is.
Toe die geleenthede in die tweede helfte kom, is die bal telkens wyd gespeel en aldrie die nuwe kampioen se drieë is deur hul twee vleuels gedruk. Brinkhuis het ook vroeg in die tweede helfte deurgenael vir sy eerste, terwyl Oupa Lemekwane gaan afrond het nadat die bal eers voorlangs deur ’n paar fases van ’n dryfbeweging gegaan het en toe wyd gespeel is.
Hoewel die tuisspan vier keer gaan druk het, sal hulle nog lank wonder oor al die geleenthede wat gedurende die wedstryd verlore gegaan het en al die ongedwonge foute waarmee hulle hul eie kanse verongeluk het.
Nadat hulle met rukke en stote begin het in die eertse helfte en gesukkel het om ’n oplossing te kry vir Centurion se ontwrigtende spel by die afbreekpunte, het dit vroeg in die tweede helfte gelyk of ABE Midas Naka Bulle die oorhand begin kry.
Skrumskakel Jack Hart se twee drieë was juwele wat duidelik albei van geoefende bewegings gekom het en dit wou lyk of Centurion gaan knak.
Maar hoede af vir die wyse waarop Centurion se groot voorpelers in daardie laaste kwart van die wedstryd inspirasie en nuwe asem kon kry om weer die druk te begin toepas. Toe Lemekwane gaan druk en die besoekers hul neuse weer voor kry, het hulle bloed geruik.
Die verdedigende kampioen het egter weer teruggeveg en met die hulp van die krag van hul voorspelers wat met dryfwerk die gaping geskep het, kon binnesenter Charles Goedlals deurglip vir die oënskynlike wendrie.
Hierna het Centurion byna onophoudelik begin aanval en soms letterlik tot sentimeters van die doellyn gevorder, maar ABE Midas Naka Bulle se verdediging het gehou. Selfs die stormlopies deur Centurion se groot senter, Kevin Osborne, wat telkens twee verdedigers verg om hom te stuit as hy op loop gaan, kon nie die wal laat breek nie.
Die besoekers het egter nooit opgegee nie. Toe kaptein Reynhardt Schutte egter besluit om – met speeltyd basies verstreke – ná die toekenning van ’n strafskop sowat 30 meter vanaf die doellyn af met ’n tikskop-en-dryfbeweging aan te val, het baie van sy span se ondersteuners gedink hul kanse is daarmee heen. Hulle sou eerder wou sien dat hy die bal nader aan die hoekvlag moes laat uitskop.
Hierdie dryfbeweging het egter eers regs beweeg en toe skrumskakel Tiaan Meintjies by die volgende afbreekpunt besluit om terug te speel na die linkerkant, was daar skielik net ’n paar voorspelers van die tuisspan – en genoeg spasie – voor Brinkuis. Dít was ’n onregverdige stryd, want Brinkuis het net te veel spoed gehad vir die moeë voorspelers wat hom probeer voorkeer het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
