Mylpaal jaar vir klubrugby legende, Tannie Johanna
Een van die merkwaardigste persoonlikhede in die rugbygemeenskap van Pretoria het onlangs stil-stil so kort voor die Carltonbeker eindstryd ’n groot mylpaal in haar persoonlike lewe bereik.
Toe ABE Midas Naka Bulle en Centurion mekaar twee weke gelede in die Carltonbeker eindstryd op eersgenoemde se veld in die Moot pak, was daar byna vyfduisend toeskouers om dié jaarlikse hoogtepunt van Bloubul klubruby te aanskou.
Vir een van daardie duisende mense was dié wedstryd haar tweede hoogtepunt van daardie week. Langs die veld, gewapen met notaboek en kamera, kon die onmiskenbare gestalte van tannie Johanna de Vos nie misgekyk word nie.
Die rede waarom Tannie Johanna, soos die klubrugby gemeenskap haar ken, twee hoogtepunte in een week gehad het was dat sy die Maandag voor die eindstryd verjaar het. Maar dit was nie sommer net enige verjaardag nie. Sy skroom ook nie om ’n mens toestemming te gee om dit bekend te maak nie… dié doyenne van klubrugby in Pretoria het 80 geword.

Foto: Koos Venter
Daar is niemand wat klubrugby in Pretoria beter ken as dié vriendelike tannie nie. As jy enigsins die afgelope 30 jaar iewers by Carltonbeker rugby betrokke was, is die kans goed dat sy jou ken. Hierdie oud onderwyseres leef al langer as 30 jaar vir haar stokperdjie – rugby.
Sy het op Messina in die verre Noord-Transvaal grootgeword en na haar studies aan die destydse Heidelbergse Onderwyskollege is sy terug na haar geboortedorp om daar skool te hou.
Daarna ontmoet sy haar eggenoot, oom Reynaert de Vos, kort nadat sy ’n pos by Lyttelton Primary School aanvaar en na Pretroia verhuis.

Foto: Facebook
Hoewel tannie Johanna al as hoërskoldogter begin het om rugbyfoto’s te versamel, het haar belangstelling in die sport vergroot toe sy as jong onderwyseres gereeld saam met oom Reynaert – toe nog net haar vriend – klubrugby wedstryde begin bywoon het.
Sy en oom Reynaert is in 1969 getroud en met twee woelwater kinders in die huis het sy in 1974 uit die onderwys getree en net per geleentheid aflos-poste aanvaar as Engels-onderwyser.

Foto: Koos Venter
Byna 20 jaar later het die rugby gogga weer behoorlik gebyt en dis toe, in 1991, wat sy statistiek begin versamel het. Dié stokperdjie het al hoe meer tyd in beslag geneem en rondom 1995, teen die agtergrond van die ophef oor rugby in Suid-Afrika weens die wêreldbeker toernooi wat hier aangebied is, het sy ook begin om oefeninge van die Blou Bulle se junior en senior spanne by te woon.
Dit was die Springbok en Bloubul legende, Jacques Olivier, wat haar geprikkel het om met haar bekende tafel met ysies en lemoene by oefeninge te begin, nadat sy eendag self ’n lemoen langs die veld gestaan en eet het.

Foto: Facebook
Daarna het sy legendaries geword vir jong Bloubul spelers wat na oefeninge nie kon wag vir dié vriendelike tannie se ysies, lemoene en waatlemoenskyfies nie. En as iemand verjaar het, was daar kolwyntjies ook.
In die proses het sy begin handtekeninge versamel en dié deel van haar stokperdjie het só uitgebrei dat sy vandag oor rakke vol leêrs beskik met meer as 10000 handtekeninge van rugbyspelers – van klubvlak tot by SuperRugby- en internasionale spelers wat Loftus besoek het.

Foto: Facebook
Kort voor lank was sy só bekend by die rugbygemeenskap in Pretoria dat die voormalige president van die unie, Dolf van Huyssteen, gereël het dat sy en haar man permanente kaartjies kry om tydens Bloubul wedstryde gaste in die presidentslosie te wees.
Klubrugby – en spesifiek die Carltonbeker liga – bly egter tannie Johanna se grootste liefde. Haar studeerkamer is inderwaarheid ’n rugby museum met rakke vol leêrs wat handtekeninge, koerantknipsels, wedstrydstatistiek, foto’s en ander rugby memorabilia insluit. Daar is boeke en wedstrydprogramme wat versamelaars sal laat vuisslaan – sommige ouer as 60 jaar.

Foto: Facebook
Sy het boonop aantekeninge en statistiek oor elke rugbywedstyd wat sy ooit gekyk het – selfs wedstryde van die Europese ligas wat sy op TV volg.
Steeds is die einde nie in sig vir dié merkwaardige vrou nie. Waar ander van haar ouderdom in ouetehuise sit, is sy en oom Reynaert – ’n afgetrede landdros – nog so besig soos twee middeljariges. Hy is ’n ywerige atleet, wat al 25 Comrades marathons en sowat 60 standaard marathons kafgedraf het. Hoewel hy weens die ingryping van Covid meer as twee jaar laas aan ’n amptelike wedloop deelgeneem het, draf die 85-jarige oom Reynaert nog weekliks tussen agt en 14 kilometer in die strate van die Moot.

Foto: Facebook
“Ek sal aanhou so lank as wat my gesondheid dit toelaat”, is tannie Johanna se antwoord oor haar toekoms met rugby.
Hoewel sy erken dat sy soms met ’n skeet of twee worstel, is dit niks ernstig nie. Sy sal nie sommer vir enige pyn of skeet van haar rugby-familie afskeid neem nie. As dit van haar afhang, sal Johanna de Vos met haar kamera en notaboek nog lank deel wees van klubrugby in Pretoria.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
