Garsfontein klop Helpmekaar, dring deur na Noordvaal Cup eindstryd
Hoërskool Garsfontein speel eerskomende naweek in die eindstryd van die Noordvaal Cup se top Beker-liga, nadat hulle ’n groot aanslag van Helpmekaar Kollege in die halfeindstryd oorleef het.
Daar was Saterdag op Berepark in Garsfontein ál die elemente van ’n klassieke uitspeelwedstryd – klipharde, maar tog opwindende skolerugby, skitterende drieë, spanning tot en met die blaas van die eindfluitjie en selfs ontevredenheid met skeidsregter beslissings.
Toe dié omstrede skeidsregter egter uiteindelik sy eindfluitjie blaas, was die Bere van Hoërskool Garsfontein steeds onoorwonne in die Noordvaal Cup toernooi en op pad na volgende week se eindstryd.
Die Garsies het Helpmekaar Kollege uiteindelik met 29-20 verslaan, maar dit was baie moeiliker as wat die eindtelling aandui.
Nadat die wedstryd teen ’n baie vinnige tempo begin het en die tuisspan binne drie minute reeds hul eerste drie gaan druk het, het Helpmekaar se wedstrydplan begin duidelik word. Hulle het die bal so veel as moontlik onder hul swaar pak voorspelers gehou en Garsfontein voorlangs probeer knak.
Die tuisspan se verdediging was egter heldhaftig en dit het die Helpies byna twintig minute van aanhoudende dryfspel gekos om die doelyn die eerste keer te haal.
Daarna het Garsies se briljante heelagter, Jason Hugo, egter na vore getree en gewys waartoe hy in staat is. Met sy eerste drie was hy die man wat ’n puik spanpoging op die aanval kon afrond. Sy tweede drie was egter ’n briljante solo-poging, waarmee hy die hele span van Helpmekaar oorhoops gevang het.
In die doodsnikke van die eerste helfte was daar ook ’n derde skitter-lopie van Hugo, wat so byna uitegeloop het op ’n drie vir die woelige flank, Luan Olivier. Nege uit tien skeidsregters sou ’n strafdrie oorweeg het nádat Helpies se regtervleuel ’n aangee van Hugo na Olivier blatant afgeklap het én daarna nog omgeswaai het om Olivier – wat intussen die bal opgepik het – deur middel van ’n hoogvat om die nek weg te hou van die doellyn. Die “onafhanklike” skeidsregter van die Valke het egter nie eers belanggestel om dit met sy lynregter (’n senior Bloubul skeidsregter) te bespreek nie, maar het summier die rustyd-fluitjie geblaas.
Met die Garsies 19-5 voor op die telbord, het dit strafskoppe teen hulle begin reën in die tweede helfte en dit was moeilik om momentum te bou. Die nie-amptelike strafskop telling in daardie skof was 8-1 teen die tuisspan.
Helpmekaar het kans gekry om terug te kom in die wedstryd met twee drieë, terwyl buitesenter Demitri Erasmus se skitterende drie – ook grootliks ’n solo-poging – dit vir die tuisspan moontlik gemaak het om hul voorsprong te behou.
Die laaste tien minute was spannend en Garsfontein se karakter is behoorlik getoets op verdediging. Die Garsies moes boonop daardie tydperk met 14 spelers klaarkom, nadat een van hul manne ’n geelkaart ontvang het vir ’n “hoogvat”, wat op die oog af heelwat versagtende faktore (mitigating factors) bevat het. Dít nadat twee redelik blatante hoogvatte op Garsfontein spelers vroeër eenvoudig geïgnoreer is.
Helpmekaar het so byna vir ’n skok gesorg, maar hul sterk agtsteman en kaptein, Christiaan Steyn, se wendrie-poging twee minute voor die eindfluitjie is kort van die lyn gedruk, terwyl hy die bal ook in die proses verloor het.
Daardie enkele tweedehelfte-stafskop teen Helpmekaar (ironies genoeg vir ’n dubbel-hoogvat op Erasmus, wat weens omstandigehde nie weer geïgnoreer kon word nie) het in die laaste sekondes aan Garsies se losskakel, Nicallen Gabrielson, die kans gebied het om die telling buite Helpies se bereik te plaas.
– Hoërskool Waterkloof se eerstespan kon ongelukkig nie vir die eindstryd kwalifiseer nie. Hulle is Saterdag in die ander halfeindstryd met 25-5 deur Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg geklop. EG Jansen sal dus eerskomende naweek die Garsies se teenstanders wees in die eindstryd.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





