Oud Affies rugbysterre maak unieke rugby-geskiedenis by Wêreldbeker toernooi
Terwyl daar Vrydagaand reeds sommer in die openingswedstryd van vanjaar se Wêreldbeker rugbytoenrooi geskiedenis gemaak is, toe die All Blacks vir die eerste keer ooit ’n groep-wedstryd in die wêreld se mees gesogte toernooi verloor het, lyk dit of twee oud-leerlinge aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) ook geskiedenis gaan maak as die Bokke Sondag teen Skotland hul wêreldbeker veldtog afskop.

Dis geen geheim dat die globale rugby-gemeenskap die afgelope twee dekades – hoofsaaklik weens die gevolge van professionalisme – al hoe meer inklusief geword het nie.
Spelers trek van oral oor die aardbol agter geleenthede en groot salarisse aan, terwyl die reëls van die Internasionale Rugby Raad (IRR – deesdae bekend as World Rugby) dit moontlik maak vir spelers om op verskeie maniere te kwalifiseer om toetsrugby te speel vir ’n ander span as sy geboorteland.
Deesdae word sommige ster-spelers reeds op ’n baie jong ouderdom deur sekere lande geïdentifiseer en dan na daardie land gelok met langtermyn kontrakte en ’n plan om uiteindelik internasionale rugby vir dié land te speel. Een van die beste voorbeelde hiervan was die oud Bloubul losvoorspeler, CJ Stander. Hy is op die ouderdom van 22 na Munster in Ierland gelok, waar hy uiteindelik ’n legende (156 wedstryde) geword het. Hy het ook uitgeblink as internasionale speler vir Ierland (51 toetse) en die Britse en Ierse Leeus wat in 2017 na Nieu-Seeland getoer het.
Nóg ’n voorbeeld is die oud Affie kaptein, Pierre Schoeman. Dié gewilde loskopstut het, net soos Stander, reeds vroeg in sy loopbaan baie potensiaal getoon op meer as een vlak. Net soos Stander (SWD, 2008) was hy ook ’n Cravenweek kaptein (Blou Bulle 2012), asook SA Skole kaptein. Beide Stander en Schoeman het vir die Junior Bokkies uitgedraf.

Foto: Twitter/X
Schoeman is in 2018 op 24-jarige ouderdom deur die span van Edinburgh in Skotland gewerf. Van die begin af het hy geen geheim daarvan gemaak dat hierdie skuif gepaard gaan met die moontlikheid om uiteindelik toetsrugby vir die Skotte te speel nie.
Intussen, nadat hy sy debuut in 2021 vir Skotland gemaak het, het Schoeman reeds 23 toetse vir sy aangenome land gespeel. Een van hierdie toetse, op 13 November 2021, was teen die Springbokke op Murrayfield in Edinburgh.
Anders as met Sondag se eerste wêreldbeker wedstryd tussen die Bokke en die Skotte, was Schoeman op daardie dag in 2021 die enigste oud-Affie op die veld. Dit is juis op híérdie onderwerp waar daar Sondag geskiedenis gemaak gaan word wanneer die Bokke en Skotland mekaar op die Stade Velodrome stadion in Marseilles gaan pak.
Sover bekend sal dit die eerste keer in die geskiedenis wees dat twee spelers wat vir dieselfde span op skool gespeel het, vir verskillende lande teenoor mekaar te staan kom in ’n toetswedstryd. Wanneer RG Snyman Sondag vanaf die reserwebank speelkans kry, sal hy en Schoeman die eerste spelers ooit word wat in dieselfde skolespan uitgedraf het en dan vir verskillende lande in dieselfde toetswedstryd speel.
Daar was ander gevalle, waar spelers wat aan dieselfde skool verbonde was in ’n toetswedstryd teen mekaar gespeel het. Twee voorbeelde uit dieselfde wedstryd het voorgekom toe Suid-Afrika en Japan in die kwarteindrondte van die 2019 wêreldbeker toernooi teen mekaar gespeel het. In daardie wedstryd het Pieter (Lappies) Labuschagne op flank gesak in Japan se skrum, terwyl Frans Steyn van die bank af vir die Bokke gespeel het. Albei was op Grey Kollege in Bloemfontiein, maar Steyn was ’n paar jaar ouer as Labuschagne en hulle het nooit in dieselfde span gespeel nie.

Foto: Affies Facebook
Dieselfde geld vir Duane Vermeulen (Springbok agtsteman) en Wimpie van der Walt (Japan plaasvervanger losvoorspeler), wat albei aan die Hoërskool Nelspruit verbonde was, maar ook nie in dieselfde jaar vir die eerstespan gespeel het nie.
Schoeman (gebore 7 Mei 1994) was in 2012 in matriek, terwyl Snyman (gebore 29 Januarie 1995) toe nog in graad 11 was. Hulle het egter daardie jaar saam vir Affies se eerstespan gespeel, terwyl Schoeman die kaptein van die span was.
Die twee spelers se loopbane het ook na skool so uitgewerk dat hulle saam vir verskeie spanne gespeel het. In 2014 het hulle saam vir Tuks se Young Guns uitgedraf in die Varsity Cup se toernooi vir junior spanne. In die eindstryd van daardie toernooi was die Tuks span ook by ’n geskiedkundige gebeurtenis betrokke, toe hulle na ekstra tyd steeds gelykop (17-elk) met die jong Shimlas van Bloemfontein was en daar ’n skop-stryd moes plaasvind om te bepaal wie die beker sou wen. Ongelukkig vir Schoeman en Snyman se Tuks span het die Shimlas Young Guns die skop-stryd gewen om as kampioen gekroon te word.
Die twee oud Affies het in verskillende seisoene vir die Junior Bokkies gespeel, maar in 2015 het Schoeman en Snyman saam vir die Blou Bulle se o.21 span uitgedraf. Later daardie jaar het Snyman in sy Curriebeker debuut-seisoen weer saam met Schoeman begin speel.
Uiteindelik het hulle tussen 2016 en 2018 gereeld saam SuperRugby vir die Bulls gespeel.
Terwyl Snyman in 2018 sy Springbok kleure in die Juniemaand toetsreeks teen Engeland verwerf het, het Schoeman egter terselfdertyd besluit om sy heil in Skotland te gaan soek.

Foto: Rugbyfromawheelchair
Snyman het eers met toestemming van die Bulls vir kort periodes in Japan gaan klubrugby speel, maar teen die einde van die 2019 SuperRugby seisoen het hy Pretoria verlaat om nog een seisoen in Japan te speel, waarna hy by Munster in Ierland aangesluit het.
Nou, vier jaar en ’n paar maande later, sal dié twee oud-Affies rugby-geskiedenis maak. Nadat hulle so baie rugby-herinneringe saam gebou het by Affies, Tuks, junior provinsiale spanne, Curriebeker spanne en SuperRugby spanne, sal Pierre Schoeman Sondag uit volle bors die Flower of Scotland besing, terwyl RG Snyman en sy Bok spanmaats aan die teenoorgestelde kant van die veld sal aantree vir die Suid-Afrikaanse volkslied.
* Sondag se wêreldbeker toets tussen die Bokke en die Skotte kry natuurlik nóg ’n geskiedkundige stertjie by wanneer drie van die vier “Boere”-Skotte in hul wêreldbeker groep deel van die span sal wees wat die Suid-Afrikaners gaan probeer verras. Hulle is Duhan van der Merwe (vleuel), Pierre Schoeman (stut) en WP Nel (plaasvervanger stut).
Die vierde Suid-Afrikaner, Kyle Steyn, is nie vir die wedstyd gekies nie. Huw Jones, wat op senter vir Skotland gaan uitdraf, het natuurlik ook Suid-Afrikaanse bande, nadat hy tussen 2014 en 2017 vir die Ikeys, WP en Stormers uitgedraf het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.