Local sportSport

Groot name raak betrokke by Pretoria rugbyklub

Na ’n onder-gemiddelde seisoen in 2023, het Pretoria Rugbyklub se leierskap besef dit dit nou tyd geword het om iets te doen om die klub weer op koers te kry.

Daar waai nuwe winde by Pretoria se oudste rugbyklub en as dit van die nuwe gesigte op die oefenveld afhang, sal die klub volgende jaar hul koppe optel en meer kompeterend wees as ooit tevore.

Dit is geen geheim dat Pretoria Rugbyklub, wat sedert 2020 terug is in die Blou Bulle se Carltonbeker liga, sedertdien op die veld nie dawerende sukses behaal het nie.

Hoewel die klub soms baie goeie rugby gespeel het, kon hul eerstespan net nie daarin slaag om ’n wedstryd in die liga-fase te wen nie. Die tweede- en derdespanne het effes beter gevaar, maar kon ook nie naby ’n uitspeelstryd eindig nie.

Gelukkig kon die klub se vrouespan hul naam hoog hou, toe hulle vir die finaal teen Harlequins gekwalifiseer het. Ongelukkig moes Pretroia se vroue die knie buig voor hul bure in dié eindstryd.

Die bestuur van dié tradisieryke klub sit egter nie stil en wag vir die voorspoed om vanself te kom nie. Hulle besef dat harde werk nodig is om sake te verander en hulle is van plan om dit te doen. Daar was reeds veranderings op die klub se bestuurskomitee, terwyl nuwe gesigte onder die afrigters ook ’n realiteit is.

Martin Koekemoer, wat in die verlede groot sukses behaal het by klubs soos Brits en Noordelikes, is aangestel as Pretoria se nuwe hoofafrigter.

Hy sal bygestaan word deur ’n paar manne wat almal diep spore getrap het by die Blou Bulle en in die Carltonliga. Twee gedugte voorrymanne, wat albei SuperRugby vir die Bulls gespeel het, word deel van Koekemoer se afrigtingspan. Hulle is die Junior Springbok, Frik Kirsten en die voormalige stut van die Bulls en Bordeaux (Frankryk), Bees Roux.

Terwyl Kirsten en Roux die voorspelers gaan help afrig, sal die agterlyn bygestaan word deur die voormalige Bulls en SWD skrumskakel, Louis van Straaten.

Van Straaten se broer, die voormalige Springbok losskakel, Braam van Straaten, sal as konsultant hand bysit om veral met die skoppers by die klub te werk.

Volgens Koekemoer wil hulle ’n inklusiewe stelsel by die klub implimenteer, wat sal beteken dat hierdie afrigters hul kennis met alle spelers by die klub sal deel en nie hul betrokkenheid tot die eerstespan beperk nie.

Daar is reed sbesluit dat die voorseisoen oefeninge op 16 Januarie 2024 gaan begin en dit sal elke Dinsdag en Donderdag vanaf 18:30 plaasvind.

Vir meer besonderhede oor die planne vir die nuwe jaar of enige ander navrae, skakel vir Koekemoer by 082-442-8201.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button