Local sportSport

Gert Potgieter, die Boerseun wat die wêreld aan sy voete gehad het

Die naam Gert Potgieter lui dalk ’n klokkie by baie Suid-Afrikaners as legendariese atleet uit ’n vervloë era, maar dié merkwaardige bekroonde sportman en -administrateur se lewensverhaal lees inderdaad soos ’n Hollywood draaiboek.

Afrikaner sport-adel. Dít is waarskynlik die mees akkurate wyse om die legendariese Suid-Afrikaanse atleet, rugbyspeler en sportadministrateur, Gert Potgieter, te beskryf.

Potgieter, wat oor sowat ’n maand 87 jaar oud word, se lewensverhaal is só ’n opwindende en boeiende storie, dat ’n goeie draaiboekskrywer op soek na ’n lokkettreffer nie verder hoef te soek as die intriges van hierdie plaasseun van Vryheid se wedervaringe oor die afgelope agt dekades nie.

Superster atleet (amptelik Suid-Afrika se mansatleet van die vorige eeu), baanbreker, wêreldreisiger en poliglot wat Afrikaans, Engels, Zoeloe en Duits magtig is, visionêre sportadministrateur… noem maar op. Dis alles deel van Gerhardus Cornelius Potgieter se storie.

Sy wêreldroem as atleet was die resultaat van ’n sameloop van omstandighede. Hy was reeds op skool ’n puik sportman, maar toe hy in 1956 by die polisiekollege in Pretoria aanmeld, het dinge vinnig gebeur. Nadat hy by dié kollege een van sy helde, die bekende atleet en rugby-superster, Tom van Vollenhoven, in die korter hekkies item op die atletiekbaan geklop het, is hy deur een van die afrigters aangespoor om die 440 tree hekkies item aan te durf.

Dié skuif was onmiddelik ’n dawerende sukses en daardie selfde jaar word hy SA kampioen in dié item. Hy word ook Springbok, maar by die Olimpiese Spele in Melbourne struikel die 19-jarige Potgieter oor die laaste hekkie en eindig uiteindelik sesde.

Daarna volg ’n mallemeule-tydperk tot by die volgende Olimpiese Spele in 1960. In 1957 breek hy die wêreldrekord in die 440 tree hekkies by ’n byeenkoms in Queenstown in die Oos-Kaap met sy tyd van 50.7s en aanvanklik ontgaan dié feit sowel atletiekadministrateurs as die media, totdat ’n joernalis van Die Burger die nuus twee dae later bekendmaak.

Intussen draf Potgieter in 1956 en 1957 – toé eintlik nog ’n o.20 speler – ses keer vir die Blou Bulle op senter uit, maar ’n ernstige nekbesering knip sy rugbyloopbaan kort.

Hy herstel net betyds vir die Statebond Spele van 1958 in Cardiff, Wallis, waar hy goud wen in die 440 tree hekkies en sy eie wêreldrekord na 49.73s verbeter.

’n Jaar later, in 1959, wen hy die goue medalje in die 440 tree hekkies by die eerste atletiek wêreldkampioenskap in Finland, wat hom die gunsteling maak om goud te vat by die Olimpiese Spele van 1960 in Rome.

Vroeg in 1960, met die Olimpiese Spele voor die deur, verbeter Potgieter wéér die wêreldrekord in die 440 tree hekkies tot 49,3s by ’n byeenkoms in Bloemfontein.

’n Ramp tref egter nie net vir Potgieter as persoon nie, maar ook vir Suid-Afrika, toe hy enkele weke voor die Spele in Duitsland in ’n motorongeluk só beseer word, dat hy in lewensgevaar verkeer en byna sy sig verloor en aan die Spele moes onttrek. Kort daarna word Suid-Afrika weens politiek uit die internasionale Olimpiese organisasie geskop en ’n Olimpiese medalje sou Potgieter vir ewig ontwyk, ten spyte van die feit dat hy later so goed herstel het dat hy in 1966 die SA kampioen in tienkamp kon word.

Hier kom die interessante intrige weer te voorskyn, want saam met Potgieter in die motor tydens die ongeluk was die beeldskone Duitse atleet, Renate Junker. Haar eie lewensverhaal is oor deurspek met intrige, wat insluit haar ervarings as jong dogter wat saam met haar familie uit Oos-Duitsland moes vlug tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar ook haar opwindende verhouding met die jong polisieman van Suid-Afrika, hul troudag in Duitsland en hoe sy alles dáár agtergelaat het om hom na Suid-Afrika te volg.

Hier in Pretoria het hulle ’n lewe saam gebou, drie kinders grootgemaak en vandag is hulle grootouers van sewe kleinkinders en vier agterkleinkinders. Dis ’n liefdesverhaal van uitdagings, opwinding en romanse oor die grense van twee kontinente wat enige draaiboek sal opkikker.

Potgieter se loopbaan as sportadministrateur is byna interessanter as sy verhaal as aktiewe sportman. ’n Mens kan aan sy lippe hang as sy begin vertel hoe sy wedervarings hom – soms selfs in private stralers – oor verskeie kontinente laat reis het terwyl hy vir plaaslike magnate soos Anton Rupert en Louis Luyt gewerk het. In die proses het hy, byna soos die beroemde Hollywood karakter, Forrest Gump, skouers geskuur en koppe gestamp met koninklikes, historiese figure uit die sportwêreld (administrateurs, sowel as atlete), die politiek en die sakewêreld. Later het ou vyande selfs vriende geword.

Behalwe vir Rupert en Luyt was daar name soos adv. Blackie Swart, adv. John Vorster, dr. Piet Koornhoff, adv. Pik Botha, Sam Ramsammy, Nelson Mandela, bekende diplomate, joernaliste oor die wêreld heen en vele ander, wie se name ter sprake kom as hy sy lewensverhaal vertel.

Potgieter het uiteindelik ook baanbrekerswerk gedoen as eerste Sport-Direkteur van die Universiteit van Pretoria, waar hy in 2000 na 20 jaar diens afgetree het.

Hy was intussen betrokke by die stigting van die Nasionale Olimpiese Akademie in 1988.

Dié bedrywige administrateur het na sy aftrede nie gaan stilsit nie en hy was mede-stigter van Altus Sport, ’n organisasie wat al byna 30 jaar help met die ontwikkeling van fasiliteite en die skep van geleenthede via sport.

Hy word reg oor die wêreld gerespekteer as sportadministrateur. Hy is byvoorbeeld in September verlede jaar herkies as Suid-Afrika se verteenwoordiger en koördineerder van die Internasional Olympic Academy Participants Association (IOAPA). Met die hulp van hierdie organisasie sal verskeie belowende jong sportlui die kans kry om later vanjaar die Olimpiese Spele in Parys by te woon.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button