Grey College breek Affies se harte, Klofies kry vyftigtal teen Parkies

Pretorianers kon die afgelope naweek uitstaande skolerugby geniet, waaronder een van die grootste tradisionele jaarlikse derbies in die geskiedenis van rugby op hierdie vlak in die land.

Die oorsprong van Suid-Afrika se krag as rugbyspelende land het baie te doen met die kwaliteit van die spel op skolevlak in dié land.

Hierdie feit is die afgelope naweek weer bewys, toe byna 15000 toeskouers op die sportterrein van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria toegesak het om dié skool se eerstespan in aksie te sien teen waarskynlik die beste rugbyspelende skool in die wêreld, Grey College van Bloemfontein.

Om alles te kroon was daar ’n paar kilometer oos in Lynnwoodweg nóg ’n paar duisend toeskouers saamgepak op die sportterrein van Die Hoërskool Menlopark, waar dié skool se eerstespan in ’n Noordvaal Cup wedstryd (Beker-afdeling) teen hul bure, Hoërskool Waterkloof, gespeel het.

– Affies se laaste oorwinning teen Grey College was in 2015, toe die Pretorianers met 29-18 gewen het. Daarna het hulle ses keer op ’n streep pakslae gekry, wat drie vyftigtalle teen hulle ingesluit het.

Affies het vanjaar egter ’n puik span en vooraf is bespiegel dat die “Wit Bulle” ’n goeie kans het om die reeks agtereenvolgende nederlae te breek.

Niemand kan ook die groot aantal ondersteuners van die tuisspan verkwalik dat hulle regdeur die wedstryd geglo het dat 2024 Affies se jaar gaan wees nie. Sommer vroeg het die seuns van Pretoria hul oorheersing voorlangs gebruik om strafskope te melk en losskakel Ruben Pienaar het drie daarvan in punte omskep.

Pienaar was ook verantwoordelik vir die eerste drie van die wedstryd, toe hy ’n oordeelsfout van die Grey-manne agterlangs uitgebuit het om in die hoek oor te gaan.

Ten spyte van wat later gebeur het, is die uitslag waarskynlik bepaal deur die twee drieë wat die Bloemfonteiners se regtervleuel, Pretorius Ekeji en losskakel Alzeadon Felix onderskeidelik sekondes vóór en twee minute ná rustyd gedruk het, toe Affies se agterlyn tweemaal aan die slaap gevang is op verdediging. Dit was punte op ’n skikbord aan die besoekers.

Nadat Affies hul neuse weer verder voor gekry het vroeg in die tweede helfte, het Grey se agterlyn telkens gapings gevind òf, soos in die geval van hul derde drie deur buitesenter Ethan Adams, hulle het sommer bo-oor die Affie verdedigers gestoomroller.

Net toe dit lyk of hierdie kragmeting die sesde in die geskiedenis tussen die twee spanne gaan wees wat gelykop (24-elk) gaan eindig, het Pienaar met ’n reuse strafdoel van sowat 50 meter geslaag en die Affie-ondersteuners was oorstelp van vreugde.

Daar was egter 90 sekondes speeltyd oor en dít was al wat Grey College se manne nodig gehad het. Slordige spel deur Affies by die afskop het aan die besoekers balbesit gegee. Hulle het begin dryf en uiteindelik was dit vaskopstut, Danie Kruger, wat met brute krag kon oorbeur vir die wendrie om die die Affie-toeskouers se harte te breek en die Vrystaters met 31-24 te laat wen.

–  Op Menlopark se veld is die toeskouers ook getrakteer met opwindende rugby, wat 14 drieë opgelewer het in die wedstryd wat met 51-31 deur Waterkloof gewen is.

Soos verlede week teen Garsfontein het die Klofies vroeg reeds die oorhand gekry en teen rustyd was hulle al met 31-12 voor. Die tuisspan het egter baie veggees gewys en nooit gaan lê nie. Hul vyf drieë het aan hulle ’n welverdiende bonuspunt besorg.

– Ná ’n ongekende ses agtereenvolgende nederlae het Hoërskool Garsfontein se Bere uiteindelik weer op die wenpad gekom met hul oorwinning van 31-19 in ’n weg-wedstryd in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling teen Hoërskool Marais Viljoen van Alberton.

Die Garsies het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom, maar het uiteindelik vyf keer gaan druk teen hul teenstanders se drie drieë.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version