Northam Wolwe wys hul staal in Carltonbeker liga

Slegs twee wedstryde in die Castle Carltonbeler liga is die afgelope naweek afgehandel, maar beide uitslae het het aangedui dat daar oor die volgende drie maande nog baie opwinding wag in hierdie toernooi.

Die sewende week van aksie in vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi is die afgelope naweek afgehandel en dit het gesorg vir die eerste werklike groot opskudding van die seisoen.

Sedert die Northam Wolwe verlede seisoen deel van die Castle Carltonbeker liga geword het, was dit duidelik dat dié span van Schalk van Heerden nie daarin belangstel om net deelnemers te wees nie, maar dat hulle groter planne het.

Verlede seisoen, toe dié manne van Skeerpoort nog as die Wolverines bekendgestaan het, het hulle so byna vir die halfeindrondte gekwalifiseer in hul eerste seisoen saam met die groot honde van die liga. Ná die afgelope Saterdag se aksie, kan aanvaar word dat die Northam Wolwe vanjaar nie net mik na die halfeindrondte nie, maar dat hulle beslis ’n kandidaat is om selfs die toernooi te wen.

–  Die kampioenspan van 2022, Auto Investments Centurion, het tot dusver vanjaar kookwater rugby gespeel. Maar Saterdag het die Northam Wolwe vriend en vyand verras, toe hulle na Centurion gereis het en ses drieë gedruk het om die tuisspan met 51-21 te oorrompel.

Toe die gewese Auto Investments Centurion vleuel, Ashwell Botha, binne die eerste drie minute soos ’n warm mes deur botter deur sy voormalige spanmaats se verdediging sny en onder die pale oorval vir die eerste drie van die wedstryd, het die eerste rooi ligte begin flikker.

Soos telkens tevore het Auto Investments Centurion se manne nie paniekerig geraak nie, maar eerder hul oorheersing in die vaste skrum gebruik om momentum te bou en deur ’n paar fases te vorder, totdat die groot senter, Kevin Osborne, kon deurstorm.

Skrumskakel Tiaan Meintjes het kort daarna halfhartige verdediging deur Auto Investments Centurion uitgebuit vir die besoekers se tweede drie.

Die tuisspan se gebrekkige dissipline het boonop hul momentum versteur, toe hul agtsteman, Calvin Maduna, ’n geelkaart ontvang het. Tog het hulle kort daarna weer teruggeslaan en na verskeie fases gaan druk.

Net voor rustyd was daar egter weer ’n aanduiding dat die tuisspan se manne nie baie lus is om te verdedig nie en nóg ’n verspotmaklike drie het die Wolwe met ’n voorsprong van 24-14 laat water drink.

Die Wolwe se bonuspunt drie het kort na rustyd gevolg. Twee strafdoele deur heelagter Werner Barnard van die besoekers het die punteverskil na 23 opgejaag en die tuisspan moes halfpad deur die tweede helfte die telbord probeer jaag.

Toe volg Meintjes se tweede drie. Daarna het die manne van Skeerpoort met elke moontlike kans van omkeerbesit teenaanvalle geloots en ná 70 minute was die vyftigtal op die telbord.

In die doodsnikke kon die tuisspan hul derde drie druk toe hulle uiteindelik weer struktuur vind en hul oorheersing in die skrum gebruik het om die fases op te bou.

–  Tuks het die afgelope naweek Bosveld toe gereis om die Northam Rhinos op hul agterplaas aan te durf, maar laasgenoemde kon vasbyt teen die studente se aanslag om met 37-30 te wen.

Dit het geen rugbyprofeet geverg om vooraf te weet dat hierdie wedstryd opwindenede rugby sou oplewer nie, want albei spanne hou daarvan om die bal lug te gee en aanvallende hardlooprugby te speel.

Ná twee nederlae sedert hulle by die Castle Carltonbeker liga aangesluit het toe hul Varsity Shield verpligtinge afgehandel is, het Tuks blykbaar hul voete gevind en verlede jaar se finalis behoorlik getoets.

Dit was dan ook Tuks wat eerste gaan druk het toe hulle ’n paar vinnige fases kon opbou na ’n lynstaan naby die doellyn.

Kort daarna het Tuks weer gedruk deur die bal wyd te speel en die tuisspan het besef die studente was daar om hul Castle Carltonbeker veldtog op koers te kry.

Na ’n vroeë stafdoel kon die Rhinos hul eerste drie eers na 20 minute gaan druk, ook vanaf ’n lynstaan in die rooi gebied.

Nog ’n drie en ’n stafdoel aan beide kante het die rustydtelling op 20-elk te staan gebring.

Die twee spanne het regdeur die tweede helfte steeds die toeskouers vermaak met opwindende spel, waartydens die tuisspan drie keer gaan druk het en Tuks ook seker gemaak het van twee ligapunte, nadat hulle vier keer gedruk en met slegs sewe punte verloor het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version