Local sportSport

Slegs Tuks kan kaarte nog deurmekaarkrap in pylvak na Carltonbeker halfeindstryde

Terwyl die kandidate vir een halfeindstryd in die Castle Carltonbeker toernooi reeds bekend is, sal die laaste kandidaat wat die nommer-een span, die Northam Rhinos, moet pak waarskynlik eerskomende naweek bepaal word, tensy Tuks se eindpoging voortduur en almal tot 10 Augustus sal moet wag om te sien of dit húlle of Centurion gaan wees wat kwalifiseer.

Die legkaart op pad na die halfeindrondte van vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi is meer as halfpad voltooi en daar is verskeie feite wat nou reeds in klip gekap kan word.

Dan is daar steeds ’n raaisel of twee wat waarskynlik eers op 10 Augustus na afloop van die laaste ligabepaling tussen Tuks en die Northam Wolwe bekend sal wees.

So, wat weet ons reeds? Wel, die Northam Rhinos gaan bo-aan die punteleer eindig. Na die Bosvelders se oorwinning oor die Grizzlies die afgelope naweek, kan niemand hulle meer inhaal nie.

Die uitslag van Saterdag se wedstryd tussen die Rhinos en die Grizzlies (49-34 in die Bosvelders se guns), is eintlik ’n goeie getuigskrif vir die Castle Carltonbeker toernooi. Nommer een het teen nommer sewe gespeel en hulle het klippe gekou om die wedstryd te kon wen. Teen rustyd was die telling nog 21-elk. Die top span op die punteleer het dus gewen, maar die onderste span teen wie hulle gespeel het, was kompeterend tot die einde.

Terug na feit nommer twee. Dit is dat Naka Bulle tweede sal eindig. Al het hulle die afgelope naweek ’n loslootjie gehad, is die manne van die Moot steeds ver genoeg voor Harlequins om te verseker dat hulle tweede op die punteler sal eindig, al gebeur wat ookal eerskomende naweek wanneer die meeste spanne hul ligaverpligtinge sal afsluit.

Dan is daar die derde feit – Harlequins sal derde eindig. Ja, al het die Blokkiestruie die afgelope naweek ’n lelike loesing (12-73) teen die studente van Tuks gekry, kan niemand hulle meer verbysteek nie en Quins sal dus derde eindig met die oog op die halfeind.

Dit beteken dus ook dat die een halfeindstryd reeds vasgestel is. Twee speel teen drie, wat beteken dat Naka Bulle teen Harlequins in die eerste halfeindstryd van 17 Augustus sal speel.

Al wat dus oorbly, is om die laaste halfeindrondte kandidaat te bepaal wat dan die Northam Rhinos op 17 Augustus sal pak.

Terloops, daar is aan Rekord bevestig dat die halfeindwedstryde op Loftus Versfeld gespeel sal word. Wie dus ookal vierde eindig, sal nie Setaria toe hoef te ry vir die wedstryd nie.

Ná die uitslae van die afgelope naweek sal die vierde plek op die punteleer alles afhang van Tuks se uitslae in hul laaste twee bepalings. Hulle speel eerskomende naweek teen Naka Bulle en dan op 10 Augustus teen die Northam Wolwe in die laaste ligawedstryd van die toernooi.

Die manne van Skeerpoort se nederlaag teen Centurion die afgelope naweek beteken dat hulle ook uit die prentjie is. Hulle kan na dese ’n maksimum van 31 ligapunte insamel, terwyl Centurion (wat hul ligaverpligtinge voltooi het) reeds 33 punte verdien het.

Slegs Tuks, wat na hul reuse oorwinning oor Harlequins die afgelope naweek nou 25 ligapunte het, kan dus nog by Centurion verbyskuif. Maar dan moet hulle beide wedstryde teen Naka Bulle (3 Augustus) en die Northam Wolwe (10 Augustus) wen en ten minste een daarvan met ’n bonuspunt.

Teoreties kan Naka Bulle dus eerskomende naweek vir Centurion ’n reuse guns doen deur Tuks te klop, want dan kan Centurion solank begin voorberei om die Rhinos in die ander halfeindstryd aan te durf.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button