Bloubul en Springbok legende John Williams oorlede
Een van die groot legendes van Loftus Versfeld, wat op alle moontlike vlakke van rugby uitgeblink het, is Donderdag oggend oorlede ná ‘n kankerstryd.
Dr. John Williams, legendariese oud Bloubul- en Springbok slot en later afrigter van Noord-Transvaal en die Springbokke, is Donderdagoggend oorlede.
Williams, wat in Oktober vanjaar 78 jaar oud geword het, is geruime tyd reeds vir kanker behandel.
Hy was ’n rugbyreus in meer as een opsig. In sy speeldae het hy 2,01m in sy sokkies gestaan en hy is een van die handjievol rugbymanne wat naam gemaak het op drie verskillende vlakke van die sport. Eerstens het hy as speler die hoogste sport van die leer bereik, daarna het hy as afrigter baanbrekerswerk gedoen en laastens moes hy as administrateur die Blou Bulle lei tydens die stormagtige dae in die oorgangstyd van amateurrugby na professionalisme.
Op al hierdie verskillende vlakke het sy soveel sukses bereik, dat dit moeilik sal wees om te bepaal waar hy die grootste nalatenskap gehad het.
As speler het hy tussen 1970 en 1976 in 64 wedstryde vir Noord-Transvaal en 13 toetse vir die Springbokke uitgedraf. In sy speeldae was hy bekend as ’n lynstaan-meester in ’n tyd toe “optel” en ondersteuning in die lynstane nog teen die reëls was. Só goed was hy hiermee, dat die briljante Britse Leeuspan van 1974 openlik erken het dat hulle bang was vir hom. Die Britse media het hom die “Jolly Jumper” gedoop.
Hyself het juis daardie Leeus van 1974 as die beste span beskou wat hy as speler op die veld teëgekom het. Die kaptein van daardie span, Willie John McBride, het hy saam met Benoît Dauga van Frankryk en Colin Meads van die All Blacks gereken as sy mees gedugte opponente op slot.
Williams het in 2008 in ’n onderhoud met Rekord gesê dat die 1970-span van Pretroia klub, die Bloubulspan van 1975 en die Springbokspan van 1971 is die bestes waarvan hy deel was as speler.
As afrigter het sy sukses begin toe sy Tuks-span van 1982 tot 1985 die Carltonbeker vier jaar in ’n ry gewen het in ’n tyd toe dié kompetisie nog gewemel het van Springbokke en provinsiale spelers.
Video met vergunning van Peter Stemmet van Front Row Rugby. Besoek gerus sy YouTube kanaal by https://www.youtube.com/@frontrowrugby vir meer soortgelyke interessante onderhoude. / Video courtesy of Peter Stemmet of Front Row Rugby. Please visit his YouTube channel at https://www.youtube.com/@frontrowrugby for more similar interesting interviews.
In 1987 neem hy oor as afrigter van die Blou Bulle na dié span se lang silwerware-droogte wat in 1982 begin het en hy het onmiddelik sukses behaal toe sy span daardie jaar die Curriebeker wen. In 1988 wen hulle weer dié beker. Teen 1989 was Williams se invloed as afrigter gevestig en daardie jaar speel hulle byna soos ’n goed geoliede masjien en vee alles voor hulle plat. Die Curriebeker eindstryd sorg egter vir ’n antiklimaks toe hulle teen die WP gelykop speel om die beker te deel.
In 1989 word Williams ook gekies as president van Tukkies se rugbyklub en vise-president by die Noord-Transvaalse rugby-unie.
Die volgende jaar aanvaar hy ’n pos as studentedekaan by die Universiteit van Potchefstroom. Dáár word dié nuwe professor ook aangestel as president van die Pukke se rugbyklub en adjunkpresident van Wes-Transvaal se rugby-unie.
In 1992 word prof. John Williams aangestel as die eerste Springbok afrigter ná Suid-Afrika se hertoelating tot die internasionale arena. Hy behaal weens verskeie redes egter beperkte sukses.
Hy was in vele opsigte ’n baanbreker wat reeds soos ’n professionele afrigter gedink het, maar die res van die administrateurs op plaaslike en nasionale vlak was ’n groot remskoen wat die die implimenting van sy idees en versoeke vertraag het.
Sy tyd as Springbok afrigter was kort en op papier nie baie suksevol nie, maar Williams het later gesê hy was waarskynlik die proefkonyn wat die houe in die raadsale moes vat, sodat die manne wat na hom gekom het deurbrake en vordering kon maak.
In 1996 keer hy terug na Pretoria. Na ’n kort tyd as afrigter, waartydens sy Noord-Transvaal span onder andere in die eerste professionele seisoen (1996) derde in die Super 12 eindig, word hy die eerste Hoofuitvoerende Beampte van die Blou Bulle Rugby-unie in die professionele era.
’n Paar jaar later tree hy af en gaan vestig hom op sy plaas naby Alldays teen die Limpoporivier, waar hy tot en met sy afsterwe met wild, beeste en gesaaides geboer het.
Williams word oorleef deur sy tweede vrou, Mariana, asook twee dogters en ’n seun wat hy saam met sy eerste vrou, Martie, gehad het. Sy is in 2003 oorlede.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.