Local sportSport

Oos-Moot leerling deur atletieklub vereer

Groot verwagtinge word in die padwedloop gemeenskap gekoester vir die toekoms van ’n tienerseun van die Moot, wat onlangs aangewys is as die Magnolia Road Runners klub se Junior Atleet van die Jaar.

Sedert die hardloop-gogga die 15-jarige Franco Pretorius, ’n graad 7 leerling aan die Hoërskool Oos-Moot, op vyfjarige ouderdom gebyt het, het dié haastige jongman nog nie weer opgehou nie.

Intussen het die padwedloop gemeenskap hom leer ken as een van die belowendse juniors in hul gelede. Hierdie stelling word bewys deur die feit dat Pretorius onlangs deur sy klub, Magnolia Road Runners, aangewys is as hul beste junior atleet van 2024.

Vir Pretorius het dit alles begin toe hy as vyfjarige seuntjie op vakansie saam met sy pa, Theuns, in die strate van Ballito gaan draf het. Terwyl ander seuns van sy ouderdom nog knus tussen die vere gelê het tydens hul skoolvakansie, het Franco sy hardloopskoene aangetrek en die lang pad aangedurf.

Selfs Ballito se berugte bulte, bekend as die “Lelike Drie Susters” het hom nie afgeskrik nie en hy het op pa Theuns se hakke gebly tydens hul oggens drafsessies.

Franco se amptelike hardloop-loopbaan het begin toe hy op die ouderdom van agt sy eerste ‘Park Run’ in Valhalla aangedurf het. Dié 5km wedloop het hy in 29 minute kafgedraf en dit het duidelik geword dat die seun talent het.

Franco Pretorius spog met die trofee wat hy ontvang het nadat hy aangewys is as Magnolia Road Runners klub se Junior Atleet van die Jaar.
Foto: Verskaf

Intussen het hy eers as laerskoolseun by Laerskool Villieria en later by Hoërskool Oos-Moot ook op die baan in atletiek as middelafstand atleet begin uitblink, terwyl pa en seun lede van Magnolia Road Runners in die Ooste van Pretoria was.  In dié klub se kleure het hulle op naweke die stad se bekendse padwedlope aangedurf.

Franco se groot deurbraak as padatleet het verlede jaar gekom, toe hy vir die eerste keer ’n 5km wedloop in minder as 20 minute kon voltooi. Kort daarna het hy ook tydens die Kaapstad marathon daarin geslaag om die 10km wedloop in minder as 40 minute te voltooi.

Tydens vanjaar se City-to-City marathon het hy die junior kategorie in die 5km wedloop gewen en daarvoor sy eerste prysgeld verdien – genoeg vir ’n paar nuwe hardloopskoene, terwyl daar nog kleingeld oor was vir ’n roomys of twee.

By die Exxaro halfmarathon in Centurion in September vanjaar hardloop hy ’n indrukwekkende persoonlike beste tyd van 17:57min in die 5km wedloop. Hy volg dit verlede maand op met ’n persoonlike beste tyd van 38:42min tydens ’n 10km wedloop by Kaapsehoop in die Laeveld.

Franco word deesdae afgerig deur die bekende atletieklegende, Ilse Wicksell, en hy glo die harde werk wat hy saam met haar insit is een van die redes waarom sy hardloop loopbaan deesdae soveel hoogtepunte beleef.

Die eerbewys as Magnolia Road Runners se Junior Atleet van die Jaar is volgens hom ook ’n positewe gevolg van al die ure se sweet.

Vir Franco Pretorius is dié harde werk en sweet egter lekker. Trouens, die sport is op sy jong ouderdom al ’n groot deel van sy lewe. Wanneer hy nie self deelneem nie – soos by die Comrades marathon en ’n onlangse 100myl deurnag wedloop, wat ouderdomsbeperkings het – is hy daar om sy mede klublede aan te moedig en te ondersteun.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button