Noord-Gauteng Stoei huisves internasionale ontwikkelingstoernooi
Een van die United World Wrestling organisasie se gewilde ontwikkelingstoernooie is onlangs in Pretoria aangebied en amateur stoeiers van verskeie Afrika lande sowel as twee Latyns-Amerikaanse lande het opgedaag om hul vaardigehde en kennis te verbeter.
Die internasionale stoei beheerliggaam, United World Wrestling, het onlangs in samewerking met die Suid-Afrikaanse Stoeivereniging een van hul gerekende Intuthuko Regional Educational Development (REDT) ontwikkelingstoernooie by Noord-Gauteng Stoei se hoofkwartier in Menlopark aangebied.
Volgens Jeanne-Marie Coetzer, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Stoeivereniging, word hierdie konsep van ontwikkelingstoernooie in streeksverband reg oor die wêreld aangebied om die sport uit te bou en standaarde te handhaaf.
United World Wrestling poog in samewerking met die Olympic Solidarity organisasie om deur hierdie ontwikkelingsinisiatief nie net nuwe deelnemers te lok na amateurstoei nie, maar dit bied ook geleenthede aan skeidsregters, afrigters en administrateurs om groter blootstelling te kry.

Foto: Koos Venter
Terwyl die stoeiers wat die geleentheid kry om ’n toernooi soos hierdie by te woon waarskynlik die beste blootstelling van hul loopbane kry, word veral skeidsregters en afrigters ook onderskeidelik op vlak twee en vlak drie van United World Wrestling se standaarde beoordeel.
Die onlangse Intuthuko REDT ontwikkelingstoernooi in Pretoria was reeds die derde wat sedert 2018 in Suid-Afrika aangebied is. Behalwe vir die toernooi self is daar ook kursusse vir skeidsregters en afrigters aangebied deur kenners soos Charles Villet, Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van United World Wrestling, terwyl die stoeiers aan oefenkampe deelgeneem het.
Hierdie oefenkampe word ook gebruik as talent-identifiseringsgeleentheid vir jonger stoeiers tussen die ouderdomme van 13 en 15. Daarbenewens is belowende stoeiers bygestaan om hul voorbereiding ten opsigte van fiksheid en tegniese vaardighede vir die Jeug-Olimpiese Spele, wat volgende jaar in Noord-Afrika (Dakar, Senekal) aangebied sal word, op die regte standaard te kry.
Stoeiers van amateurklubs reg oor Suid-Afrika het na Pretoria gereis om deel van die aksie te wees, waar hulle te staan gekom het teen besoekers van ander Afrika lande soos Namibië, Botswana, Swaziland, Zimbabwe, Zambië en Nigerië.

Foto: Koos Venter
Enkele besoekers het ook uit Kuba en Ecuador gereis om die geleentheid te gebruik om hul kennis en vaardighede te verbeter.
Op die tweede dag van die toernooi het die stoeiers deelgeneem aan ’n unieke Strandstoei-toernooi, wat by die bekende strandtennis fasiliteit van die Clubwiew tennisklub in Centurion aangebied is.
Strandstoei het sowat 20 jaar gelede ontstaan en geniet intussen verbasende groei in gewildheid met toernooie wat reg oor die wêreld groot belangstelling uitlok.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
