Local sportSport

Interprovinsiale klubrugby keer terug met nuwe Superliga

Top klubs uit vyf van die ses provinsiale rugby-unies noord van die Vaalrivier neem vanjaar in Februarie en Maart deel aan ’n nuwe interprovinsiale klubrugby toernooi met aanloklike prysgeld.

Terwyl klubrugby onder die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) se jurisdiksie in die post-Covid era ’n ongekende oplewing beleef het, is dit ook so dat die era voor Covid gepaard gegaan het met ’n paar seisoene waar rugby op dié vlak deur ’n fase van heropbou moes worstel.

Tussen 2015 en 2019 moes die Blou Bulle en sommige van hul buurprovinsies koppe bymekaar sit om toernooie te skep waar die krag-teen-krag beginsel kon help om klubrugby deur moeilike seisoene te dra.

Uit hierdie era – inderwaarheid regdeur die vorige dekade – is klubrugby toernooie oor provinsiale grense tot stand gebring, om die standaard van die spel op klubvlak hoog te hou en aan die top klubspelers in provinsies soos die Blou Bulle, die Valke, die Pumas en die Luiperds die geleentheid te bied om hulself teen die bestes van ander streke te toets.

Toernooie soos die Assupol klubreeks en die Volcanobeker interprovinsiale reeks het wondere verrig om inderwaarheid nuwe lewe te blaas in klubrugby noord van die Vaalrivier.

Deesdae kan die Blou Bulle met reg spog dat die plaaslike Carltonbeker toernooi weer gevestig is as waarskynlik Suid-Afrika se strafste klubrugby kompetisie.

Op inisiatief van Willem Straus, president van die BBRU sal daar bykomend tot die Carltonbeker- en die nasionale Gold Cup toernooi vanjaar weer ’n ekstra klubrugby toernooi aangebied word waardeur die unie se top klubspelers hulself kan toets teen die bestes van die Valke, Pumas, Luiperds en Limpopo.

Die nuwe Castle Superliga sal in die eerste deel van die seisoen (Februarie en Maart) aangebied word, waarna die verskillende provinsies se normale ligas sal afskop.

Toernooie soos die Assupol klubreeks en die Volcanobeker interprovinsiale reeks het in die vorige dekade wondere verrig om inderwaarheid nuwe lewe te blaas in klubrugby noord van die Vaalrivier.
Foto: Koos Venter

Jaco Dames, nuwe Algemende Bestuurder van die BBRU, het verlede maand bevestig dat hierdie liga op 15 Februarie sal afskop en dat 12 spanne in vier groepe geloot is vir die eerste fase van die kompetisie.

Die Blou Bulle sal in die Castle Superliga verteenwoordig word deur die Carltonbeker en Gold Cup kampioen, Naka Bulle, Centurion Rugbyklub, Harlequins en Tuine Grizzlies. Vir die Valke sal Brakpan, NWU Vaal, Springs en Vereenging deelneem, terwyl Sasol Secunda die Pumas se verteenwoordiger is.

Hoewel die twee Northam spanne, die Rhinos van die Bosveld en die Wolwe van Skeerpoort deel is van die Carltonbeker liga, sal hulle onderskeidelik die Limpopo Blou Bulle en die Luiperds verteenwoordig, soos hulle ook vir die Gold Cup geregistreer is.

Louis Trichardt Rugbyklub is die ander verteenwoordiger van die Limpopo Blou Bulle.

Die vier spanne wat bo eindig in elke groep sal vir die halfeindrondte op 15 Maart kwalifiseer, terwyl die eindstryd op 22 Maart sal plaasvind.

Behalwe vir die blootstelling en prestige wat deelnemende spanne uit die Castle Superliga toernooi kan kry, bied die borg ook aanloklike bedrae kontant aan die klubs wat uiteindelik in die eerste drie plekke eindig. Die wenner sal R300 000 ontvang, die naaswenner R150 000 en die span wat derde eindig sal R50 000 ryker wees.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button