Bekende rugbyman sterf ná motorfiets ongeluk
Tommy Webb, wat deel was van die legendariese Korrektiewe Dienste rugbyspan in Pretoria wat die eerste keer in dié klub se geskiedenis die Carltonbeker kon wen, is die afgelope naweek saam met sy vrou tragies ná ’n motorfiets ongeluk oorlede.
Een van die legendes van die Korrektiewe Dienste rugbyklub in Pretoria, Tommie Webb (54), is Saterdagaand tragies ná ’n motorfiets-ongeluk oorlede.
Webb se vrou, Crolin, wat saam met hom op die motorfiets was, het ook later aan haar beserings beswyk. Die egpaar, wat hul laaste jare op Cradock gewoon het, was naby Willowmore in die Oos-Kaap op reis.
Webb het in die laat 1990’s in meer as 100 provinsiale wedstryde vir Suidwestelike Distrikte (SWD) op haker uitgedraf, nadat hy aanvanklik naam gemaak in die Blou Bulle se Carltonbeker liga.
Hy het by Korrektiewe Dienste aangesluit na sy skoolloopbaan by Hoërskool FH Odendaal, waar hy in 1987 deel was van dié skool in die Noord-Ooste van Pretoria se eerstespan-groep wat daardie jaar teen alle verwagting in die eindstryd van die Direkteursbeker toernooi (deesdae die Noordvaal Beker) gehaal het.
Webb was in sy o.20 dae nog ’n flank, maar die bekende afrigter, Deon Boardman, het hom na haker geskuif, waar hy later groot sukses behaal het. Hy was deel van Boardman se Korrektiewe Dienste span wat in 1993 die eerste keer in dié klub se geskiedenis die Carltonbeker verower het.
Nadat Webb in die mid-1990’s ’n paar wedstryde vir die Blou Bulle en ook die Lions gespeel het, het hy in die later deel van daardie dekade saam met Phil Pretorius en Heyneke Meyer na George in die Suid-Kaap geskuif om vir SWD uit te draf. Dít was nadat rugby in 1996 professioneel geword het en die Carltonbeker spanne groot verliese gely het soos hul spelers aanbiedings van kleiner Curriebeker unies ontvang het.
Dié robuuste en hardwerkende haker het in die Suid-Kaap só goed gevorder, dat hy selfs in 1999 deur die Stormers nadergetrek is. Suid-Afrika se SuperRugby franchises is destyds in groepe verdeel en SWD het saam met Boland en WP deel van die Stormers se groep uitgemaak.
Webb het só indrukwekkend gespeel by die Stormers dat hy later daardie jaar ook deur die destydse Springbok afrigter, Nick Mallett, uitgenooi is na sy vergrootte Springbok oefengroep.
Tommie Webb en sy vrou word oorleef deur twee kinders en twee kleinkinders.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



