Curro Hazeldean maak geskiedenis by Pretoria B-bond Interhoër
Die Curro Hazeldean Hoërskool het Donderdag in die Pilditch stadion in Pretoria-Wes die geskiedenisboeke herskryf toe hulle met ’n kragvertoning al drie kategorië gewen het om in hul eerste jaar in dié geledere as kampioen van Pretoria se B-bond Atletiek-interhoër gekroon te word.
Die opkoms van Curro Hazeldean as skole-atletiekkrag duur voort en dié skool uit Pretoria se ooste het Donderdag op die Pilditch stadion in Pretoria-Wes geskiedenis gemaak toe hulle die stad se B-bond interhoër met hul eerste probeerslag gewen het.
Hulle was egter regdeur die dag in ’n kwaai stryd gewikkel met Hoërskool Oos-Moot.
Sover bekend is dit die eerste keer in die meer as vyf dekades wat plaaslike atletiek in hierdie formaat aangebied word dat ’n skool in hul eerste jaar van B-bond status die byeenkoms wen en daardeur gepromoveer word om volgende jaar saam met die groot honde van die A-bond te blaf. Curro het ’n paar jaar in die C-bond gekompeteer, voordat hulle dié liga verlede jaar kon wen.
Die nuwe B-bond kampioen het uiteindelik skoonskip gemaak in die spankompetisie sowel as die seuns- en dogters afdelings. Curro se gesamentlike span-totaal was 2654 punte, met Oos-Moot wat op 2499 geëindig het.
Daarna volg Hoërskool Centurion met 2190 punte, Hoërskool Overkruin met 1989 punte, Prestige College van Hammanskraal met 1940 punte, Sutherland High School met 1899 punte, Hoërskool Akasia met 1874 punte en Hoërskool Brits met 1751 punte.
Vooraf is daar in skole-atletiekkringe bespiegel dat hierdie byeenkoms ’n reuse driehoekige stryd sou wees tussen twee gewese A-bond skole, Oos-Moot en Prestige College, asook Curro Hazeldean as opkomende atletiekkrag.
Uiteindelik het Prestige College nie aan hierdie verwagting voldoen nie, maar die Oosies se atlete het hard geveg om die nuweling, wat verlede jaar nog uit die C-bond gepromoveer is, te probeer klop. Oos-Moot se meisies (1307 punte) het hul teenstanders van Curro (1349) veral goed opgedreun en slegs 42 punte het die twee spanne in dié afdeling geskei.
Die gaping tussen Curro se seuns (1305) en Oos-Moot se seuns (1192) was effens groter.
Weens die feit dat Woensdag se C-bond interhoër afgestel is as gevolg van die reënweer was daar geen wenner in dié liga nie en soos sake tans staan sal daar tussen die B- en C-bonde nie volgende jaar promosie en relegasie plaasvind nie, wat goeie nuus is vir Brits. Dié plattelandse skool is sedert 2019 deel van die Pretoria B-bond, maar het vanjaar gesukkel.
Anders as die vorige dag het die weer Donderdag saamgespeel en hoewel dit heeldag bewolk was, het geen reën in die stadion geval nie. In hierdie omstandighede is die B-bond byeenkoms met groot sukses en uitnemendheid deur Hoërskool Akasia aangebied.
Hoewel die koel weer waarskynlik nie ideaal is vir naellopers en hekkies-atlete nie, is die meerderheid van die 29 nuwe rekords in hierdie baan-items opgestel.
Dit was veral die spoedvrate in die 100m, 200m en 400m naellope, asook die hekkies items (met Curro Hazeldean se atlete oorheersend), wat behoorlik baljaar het op die baan.
Hoewel geen atleet volpunte (1000) op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel kon behaal nie, het verskeie baie naby gekom met 12 vertonings wat meer as 900 punte werd was. Volgens hierdie standaard was Tumi Ramokgopa van Prestige College die top atleet van die byeenkoms. Haar drie goue medaljes was almal meer as 900 punte werd, met haar rekord-tye in die 100m hekkies (13,77s vir 951 punte) en 400m hekkies (58,77s vir 979 punte) wat haar klas bewys.
Ramokgopa is as beste senior dogters-atleet vir die baan items én as Senior Victrix Ludorum aangewys.
Roemay Korff, ’n o.14 atleet van Oos-Moot (beste junior dogters baan-atleet en Junior Victrix Ludorum) se drie goue medaljes het ook twee prestasies van meer as 900 punte ingesluit.
Thato Mahlatsi van Curro, wat in Junie vanjaar eers 16 word, het die oë laat rek met sy tyd van 10,81s in die 100m vir seuns o.16, terwyl sy spanmaats Mukona Manavhela (10,59s) en Lethabo Maloma (10,62) ook wentye van sub-11 sekondes in die 100m wedlope vir onderskeidelik die seuns o.17 en seuns o.19 afdelings aangeteken het.
Manavhela het boonop ’n tweekuns in die naellope behaal met ’n sub-22 sekondes rekordtyd in die 200m wedloop. Hy is as Senior Victor Ludorum aangewys.
Tiisetso Malungane van Curro, wat drie nuwe rekords in die 800m (1:58.45), 1500m (04:10.52) en 3000m (09:20.17) vir seuns o.15 opgestel het, is aangewys as Junior Victor Ludorum.
Curro het hul oorheersing aan die einde van die dag se verrigtinge onderstreep deur sewe van die 10 4x100m aflos items te wen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



















