Local sportSchool sportSport

Helpmekaar skop wéér stof in Pretoria-teenstanders se oë by Super Interhoër

Hoewel die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) Pretoria se naam hoog gehou het met hul oorwinning in die afdeling vir seuns, het twee skole uit Johannesburg verlede week stof in die oë geskop van die Pretoria skole in die spankompetisie by die gesogte Super Interhoër atletiekbyeenkoms in die Pilditch stadion.

Helpmekaar Kollege van Johannesburg het vir die derde jaar agtereenvolgens koning gekraai in spankompetisie van Groep-1, die boonste liga van die sogenaamde “Super” Interhoër, waarin sommige van die heel beste sportskole in Gauteng, Noordwes en Mpumalanga in vier verskillende groepe deelneem.

In die proses het Helpmekaar afgereken met plaaslike skole van Pretoria soos Hoërskool Waterkloof,  Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Garsfontein.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) was weer die kampioen in die afdeling vir seuns, terwyl Pretoria se Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) daarin geslaag het om tweede in die dogters-afdeling te eindig.

In die spankompetisie het Helpmekaar (754 punte) eerste geëindig, met die Wesranders van Hoërskool Noordheuwel (712 punte) in die tweede plek. Daarna volg Waterkloof (655 punte), Zwartkop (620 punte), Garsfontein (521 punte), Klerksdorp (516 punte) en die gasheerskool, Kempton Park (461 punte).

Hoewel die Kempies die byeenkoms op uitstekende wyse aangebied het, sal hulle ongelukkig vir die eerste keer in jare nie volgende jaar deel van Groep-1 wees nie, aangesien hulle in die promosie/relegasie proses deur Hoërskool Nelspruit, wat Groep-2 se wenner was, vervang sal word.

Nelspruit (733 punte) het nog ’n plattelandse skool, Potchefstroom Gimnasium (709 punte) uitgestof om Groep-2 te wen. Ná Potch Gimmies was Hoërskool Rustenburg (694 punte) in die derde plek, gevolg deur Hoërskool Transvalia (659 punte), Hoërskool Monument (609 punte), Hoërskool Oos-Moot (die enigste Pretoria-skool in dié groep – 586 punte), Hoërskool Dr. Malan (579 punte) en Hoërskool Randburg (534 punte).

Op die baan is toeskouers getrakteer met atletiek wat Suid-Afrikaners hoop kan gee vir die land se toekoms in hierdie gewilde sportsoort. Hoe dan ook anders, as in ag geneem word dat die meerderheid van die heel beste skole-atlete noord van die Vaalrivier by hierdie byeenkoms in aksie was.

In Groep-1 was dit byvoorbeeld geen vreemde verskynsel dat daar in sommige items tot drie atlete was wat prestasies van 900 punte en meer op die bekende Athletics Performance Evaluation (APE) tabel gelewer het nie.

Elf byeenkomsrekords is in Groep-1 verbeter, terwyl ses nuwe rekords vir Groep-2 op die rekordboeke aangeteken sal word ná Woensdag se aksie.

Die groot ster van die byeenkoms was die 17-jarige Leendert Koekemoer van Helpmekaar Kollege. Dié briljante atleet, wat in Mei vanjaar eers 18 jaar oud word, het ’n kragvertoning in al drie die naelloop items gelewer wat net op een manier beskryf kan word – wêreldklas.

Koekemoer se tyd in die 400m was nou wel nie vergelykbaar met sy persoonlike beste van 45.60s,wat hy vroeër vandeesmaand aangeteken het nie, maar dit moet in ag geneem word dat die 400m wedlope aan die einde van die program plaasgevind het en dat hy reeds vroeër die dag twee briljante tye in die twee ander naellope aangeteken het. Hy het die 100m wedloop in 10,38s gewen en die 200m in 20,59s.

Dewald Bezuidenhout van Affies het ook weer die oog gevang met sy prestasie in die gewigstoot vir seuns o.16. Sy wenastand van 19,29m was nie net meer as 3,5m verder as sy naaste teenstander nie, maar dit is ook ’n volle 1000 APE punte werd.

Megan Venter van Waterkloof het ook ’n driekuns behaal toe sy die 100m (12,48s), 200m (24,84s) en die verspring (5,84m) vir dogters o.16 gewen het.

Affies se Emil Els se tweekuns in die 800m (1:53,01) en 1500m (3:57,36) wedlope vir seuns o.16 was albei meer as 900 APE punte werd, terwyl hy kan spog met ’n nuwe byeenkomsrekord in die 1500m.

In Groep-2 het twee plattelanders, Stephane Hook van Potchefstroom Gimnasium (dogters o.17) en Nathan van Staden van Rustenburg (seuns o.15) die top prestasies gelewer. Hook het die spiesgooi item met ’n nuwe rekord afstand van 52,76m gewen, terwyl Van Staden ook die rekord verbeter het met sy afstand van 66,14m in die diskus item.

Groep-3 is Donderdag deur Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp gewen, terwyl Hoërskool Rob Ferreira van Witrivier die wenner van Groep-4 was. Die enigste plaaslike skole in hierdie twee groepe is Prestige College van Hammanskraal (tweede in Groep-3) en Hoërskool Eldoraigne (vierde in Groep-3).

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button