Hoërskool Wonderboom vereer hul oudste Springbok
Die oud Springbok slot, Avril Malan, is nie net die oudste lewende Springbok kaptein nie, maar ook ’n rugby-legende in eie reg en die Hoërskool Wonderboom het die afgelope naweek hul sportpaviljoen amptelik na dié oud leerling van die skool vernoem om sy naam en nagedagtenis op hierdie wyse te eer.
Die Hoërskool Wonderboom het ’n besonder trotse rugby-geskiedenis en kan daarmee spog dat dié skool meer Springbokke opgelewer het as die meeste groter skole in Pretoria, wat in vandag se terme onder die land se voorstes tel.
Slegs die Afrikaanse Hoër Seunskool (11) het meer Springbokke opgelewer as Wonderboom se ses.
Die Wonnies se heel eerste Springbok was Avril Malan. Hy het as speler, kaptein en later ook afrigter diep spore in die geskiedenis van Springbokrugby getrap. Dis om hierdie rede dat die bestuur van die skool onlangs besluit het om Malan, tans die oudste lewende Springbok kaptein, op besondere wyse te vereer deur die skool se sport-paviljoen na hom te vernoem.
Avril Stefan Malan, gebore 9 April 1937, se vader was ’n professor by die Onderstepoort Veeartsenykunde Instituut. Hy het in die Moot grootgeword en was sy lewe lank ’n uitblinker en leier in byna alles wat hy aangepak het.
Malan het op 16 matriek geskryf aan Hoërskool Wonderboom, waar hy boonop hoofseun en kaptein van die eerste rugbyspan was.
Na sy skoolloopbaan het Malan aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer, waar hy ook op ’n baie jong ouderdom naam gemaak het as rugbyspeler. Hy het as 20-jarige student reeds vir die Westelke Provinsie as slot uitgedraf. Hoewel hy slegs 1,85m lank is, was Malan bekend vir sy veerkragtigheid en menige langer teenstander het die lynstaanstryd teen hom verloor.
Na sy studies het Malan weens beroepsredes na Johannesburg verhuis, waar hy vir die res van sy provinsiale loopbaan vir Transvaal uitgedraf het.
Op 25 Junie 1960 speel Malan in sy eerste van 16 Springbok toetse teen die All Blacks op sy provinsiale tuisveld, Ellispark. Die Bokke wen 13-0 en Malan word ook vir die tweede toets op Nuweland geskies. Toe die Bokke dié toets met 3-11 verloor, word die Natalse heelagter, Roy Dryburgh, van die kapteinskap onthef en die 23-jarige Malan lei die Bokke vir die eerste keer op 13 Augustus 1960 in Bloemfontein in die derde toets, wat met 11-elk gelykop eindig. Hy hou steeds die rekord as die jongste Springbok kaptein ooit.
Daarna lei hy die Springbokke nog nege keer in sy oorblywende 13 toetse, voordat hy aan die einde van die span se Europese toer in 1965 op die jong ouderdom van 28 uit rugby tree. Hy het ook in 20 toerwedstryde vir die Springbokke uitgedraf.
Malan het na sy spelersloopbaan by rugby betrokke gebly. Eers as amptenaar by die Transvaalse Rugby-unie en later as afrigter van die Springbokke in 8 toetse tydens die moeilike jare 1969/70. Hy het die span in Desember 1969 en Januarie 1970 op hul toer na die vier Britse tuis-unies gebrei. Dié toer sou later as die Springbokke se eerste “betogertoer” bekendstaan weens die politieke aktivisme waarmee hulle in Brittanje te doen gehad het.
Dit was ook op hierdie toer dat Malan sy innovering bewys het toe hy die eerste afrigter geword het om die ingooiwerk by lynstane aan die haker toe te vertrou, nadat dit voorheen die vleuels se werk was.
Die Avril Malan Paviljoen op Wonderboom se sportgronde is Saterdag amptelik ingewy, kort voor die skool se eerstespan se vriendskaplike wedstryd teen Hoërskool Florida.
Nadat Wonerboom se hoof, Marius Lezar, in sy rede uitgewy het oor die loopbaan en prestasies van Avril Malan, het hy ook onthul dat die huidige Bulls kaptein en Springbok slot, Ruan Nortjé, aanvanklik ook deel van die seremonie sou wees.
Nortjé is Wonderboom se sesde en jongste Springbok en toevallig ook ’n slot en lynstaanspesialis soos Malan. Ongelukkig is die jong Bulls kaptein vroeër die week deur Rassie Erasmus opgeroep na ’n Springbok oefenkamp in die Kaap en hy kon nie die verrigtinge bywoon nie.
Nadat Malan aan die twee skole se eerstespanne voorgestel is, het hy ten spyte van moeilike gesondheidsomstandighede, kans gesien om ’n paar woorde te spreek. Hy het lewenslesse met die leerlinge gedeel, waarna hy die skool bedank het vir die eer wat aan hom bewys is.
Die Wonnies se eerstespan, ook bekend as die Tiere, het boonop die kersie op die koek geplaas van die trotste seremonie, deur Floida met 24-20 te klop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.














