Local sportSchool sportSport

Bulletjies trotseer die koue op Loftus Versfeld

Ten spyte van die yskoue weer wat Pretoria die afgelope weke beleef, het die stad se jong kaalvoet toekomstige rugbysterre weer in hul duisende opgeruk om die afgelope naweek aan die 32ste amptelike Vodacom Bulletjiedag op Loftus Versfeld deel te neem.

Pretoria beleef vanjaar waarskynlik die koudste winter in tien jaar, maar dié weersomstandighede het nie verhoed dat duisende jong Bulletjies saam met hul families die afgelope naweek na Loftus Versfeld opgeruk het vir die 32ste jaarlikse Vodacom Bulletjie-dag nie.

Op hierdie spesiale dag kry byna 6000 Bulletjies tussen die ouderdomme van ses en agt jaar die geleentheid om, net soos hul Bulls-helde, op die groen gras van Loftus Versfeld se rugbyvelde met ’n rugbybal in die hand hul vaardighede te vertoon.

Terwyl daar vir baie jare net op die B-; C-; en D-velde van Loftus Bulletjie-rugby gespeel is, het ’n groep bevoorregte o.8 spelers die afgelope twee jaar selfs die geleentheid gekry om op die A-veld in die stadion te speel.

Die D-veld word deesdae tydens hierdie rugbyfees grootliks gebruik om ’n speelarea in te rig waar vermaak soos springkastele nie-spelende Bulletjies en ander kinders besig hou, terwyl die aksie op die ander velde plaasvind.

Volgens die amptelike statistiek het 76 laerskole deelgeneem aan die fees. Hierdie skole is verteenwoordig deur 160 spanne met o.6 spelers, 187 spanne met o.7 spelers en 154 spanne met o.8 spelers wat vanjaar op die Bloubul heiligdom daar op die hoek van Kirkness-straat en Lynnwoodweg opgedaag het vir hul kans om in aksie te wees op die velde van dié wêreldberoemde rugby-kompleks.

Die vier velde van Loftus Versfeld word in kleiner eenhede verdeel en uiteindelik is meer as ’n duisend wedstryde op die dag afgehandel.

Bulletjie-rugby is ’n unieke konsep waar die jong spelertjies die kans kry om kompeterend aan wedstryde deel te neem, sonder die risiko van ernstige beserings wat gepaard gaan met kontakturgby. In hierdie formaat van die spel moet verdedigers een van twee materiaalstroke, wat met ‘velcro’ aan weerskante van die baldraer se rugbybroekie vasgemaak word, afruk. Laasgenoemde moet dan dadelik van die bal ontslae raak.

Terwyl ander soortgelyke Bulletjiedae ook by sommige skole en klubs angebied word, is die amptelike Vodacom Bulletjiedag die grootste in terme van deelnemers, asook in terme van die hoeveelheid toeskouers wat dit bywoon. Ouers, grootouers en ander belangstellendes ruk van oral binne die Tshwane Metro se grense op om die jong aspirant Blou Bulle te ondersteun.

Hierdie groot rugbyfees word nie-amptelik beskou as die grootste jaarlkse rugby-geleentheid ter wêreld.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button