Skole vanoor SA ruk op na Pretoria vir die Absolut Menlo-tennistoernooi
Die Hoërskool Menlopark se jaarlikse Absolut Menlo-tennistoernooi het vanjaar sommige van die land se heel beste skole-tennissterre uit ses verskillende provinsies gelok en plaaslike skole het puik presteer in dié unieke toernooi.
Die 18de jaarlikse Absolut Menlo-tennistoernooi, wat verlede week deur Die Hoërskool Menlopark aangebied is, is amptelik die grootste gemengde skoletennis-toernooi in Suid-Afrika.
Altesaam 32 tennisspanne vanuit ses van Suid-Afrika se provinsies het na Pretoria opgeruk om aan hierdie toernooi deel te neem, wat oor drie dae – Donderdag tot Saterdag – by vyf verskillende tennisbestemmings afgehandel is.
Behalwe vir die bane van Die Hoërskool Menopark word daar ook van Tennis Gauteng-Nood se hoofkwartier in Groenkloof, Lynnwood Glen Tennisklub, Lynnwood Tennisklub en Menlo-Alkant Tennisklub se fasiliteite gebruik gemaak.
Ses skole uit Pretoria het deelgeneem aan die toernooi. Hulle is Die Hoërskool Menlopark, die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, die Afrikaanse Hoër Seunskool, Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Waterkloof en Pretoria Boys High School.
Gauteng is ook verteenwoordig deur Helpmekaar Kollege en Hoërskool Noordheuwel. Uit Mpumalanga was Hoërskool Nelspruit deel van die aksie, terwyl Potchefstroom Gimnasium die Noordwes provinsie verteenwoordig het. Potch Gimmies se seuns was vanjaar die verdedigende kampioen in die seuns-afdeling.
Die Vrystaat se deelnemers was die verdedigende kampioen in die dogters-afdeling, Sekondêre Meisieskool Oranje, asook Hoër Meisieskool Bloemhof. Die Wes-Kaap is deur Hoërskool Stellenbosch, Paarl Gimnasium en Paarl Girls’ High verteenwoordig. Hoërskool Duineveld uit Upington het gesorg dat die Noord-Kaap ook verteenwoordig was.

Foto: Verskaf
Dié lywige toernooi begin met drie vooraf rondtes, waarna daar ook kwarteindrondtes, halfeindrondtes en uiteindelik eindstryde gespeel word.
Enkel- en dubbelspel afdelings is deel van die toernooi en die deelnemede spanne word volgens ’n unieke konsep in vier groepe ingedeel. Hierdie groepe is vernoem na die vier internasionale Grand Slam tennistoernooie – die Australiese Ope, die Franse Ope, Wimbledon en die Amerikaanse Ope.
Spanne verdien punte regdeur die toernooi en die program vir die uitspeelfase word hiervolgens bepaal.
Na drie dae van opwindende tennis aksie is die eindstryde vir die onderskeie kampioenspanne op Groenkloof se bane beslis.
Die Sekondêre Meisieskool Oranje van Bloemfontein kon daarin slaag om vir ’n derde jaar agtereenvolgens as kampioen van die dogters-afdeling gekroon te word. Hoër Meisieskool Bloemhof was tweede met die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria in die derde plek.
In die afdeling vir seuns het die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) die seuns van Potchefstroom Gimnasium (tweede) ontroon en gesorg vir ’n plaaslike kampioen teen die landwye teenstanders. Die Hoërskool Menlopark se A-span was derde.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
