Rekords by dosyne en wêreldklas atletiekprestasies by Curro Podium Noord uitdun-byeenkoms
Die nuwe atletiekseisoen het skaars begin, maar atlete van deelnemende skole by verlede week se noordelike uitdun-byeenkoms van die Curro Podium skole-atletiek reeks het gewys dat die komende seisoen Suid-Afrika se groeiende aantal wêreldklas atlete op junior vlak sal bevestig.
Die noordelike uitdun rondte van die vierde Curro Podium skole-atletiek reeks, wat verlede week op die Pilditch baan in Pretoria-Wes aangebied is, het kookwater atletiek opgelewer.
As die prestasies van atlete by hierdie byeenkoms die maatstaf vir die res van die seisoen moet wees, kan liefhebbers van skole-atletiek solank begin gereedmaak vir vertonings wat sal wys dat Suid-Afrika binnekort vir geen land in die wêreld hoef terug te staan op die atletiekbaan nie.
Die Hoërskool Menlopark het Vrydag bewys dat hulle steeds die skool is om op die atletiekbaan te klop, nadat hulle as verdedigende kampioen weer skoonskip gemaak het in die die seuns- en dogters afdelings én die spankompetisie.
Curro Hazeldean, die skool in die Curro Groep wat die meeste baat by hul atletiek ontwikkelingsprogram, het egter ’n waarskuwing gerig dat die Parkies nie op hul louere kan rus nie. Dié skool het tweede geëindig in die span kompetisie sowel as die seuns-afeling, terwyl hul dogters vierde in dié afdeling was.
Ses van die tien top spanne by die byeenkoms is van Pretoria. Die top tien is Menlopark (41440 punte); Curro Hazeldean (40046); Helpmekaar Kollege (38792); Hoërskool Noordheuwel (38589); Hoërskool Waterkloof (37972); Hoërskool Zwartkop (37461); Hoërskool Montana (37244); Prestige College (36771); Hoërskool Klerksdorp (36324) en Hoërskool Marais Viljoen (35609).
Altesaam 29 atlete het tydens Vrydag se byeenkoms prestasies behaal wat volpunte (1000) werd is op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel. Die meeste van hierdie vertonings was deel van die 27 nuwe byeenkoms rekords wat opgestel is.
In terme van die kwaliteit van haar prestasie was die ster van die byeenkoms Tumi Ramokgopa van Prestige College in Hammanskaal. Dié 18-jarige atleet, wat twee maande gelede twee goue medaljes (100m hekkies en 400m hekkies) by die Afrika o.18 en o.20 kampioenskappe in Nigerië gewen het, het Vrydag op die Pilditch baan net aan die 100m hekkies item vir dogters o.19 deelgneem.
Sy het egter haar enkele verskyning op die baan die moeite werd gemaak deur haar eie Suid-Afrikaanse junior (o.20) rekord in die 100m hekkies van 13.22s na 13.15s te verbeter. Dis uiteraard ook ’n nuwe byeenkomsrekord én volpunte op die APE tabel werd.
Menlopark se atlete het ook die Pretorianers se vlag gedra wat betref die beste individuele prestasies, met vier van die agt toekennings vir beste baan- en veldatlete wat aan Parkie-sterre uitgedeel is.
Die beste junior veldatleet, Jaco van Dyk (seuns o.15), het volpunte in beide die diskus en gewigstoot items behaal, terwyl hy in albei items ook die byeenkomsrekord verbeter het.
In dieselfde kategorie (junior veldatleet) vir dogters het Daniella Fourie van Menlopark se twee byeenkomsrekords en 1968 APE punte in die gewigstoot en diskus aan haar die toekenning besorg.
Megan Nieman, wat beide die 100m hekkies en 400m hekkies items vir dogters o.17 met byeenkomsrekords gewen het en boonop 1989 APE punte verdien het, was die senior dogters baanatleet van die byeenkoms. Haar rekordtyd van 58,25s in die 400m hekkies plaas haar boonop vierde op die wêreld ranglys in haar ouderdomsgroep.
Nog ’n ou Parkie staatmaker, Joshua Gerber, is as beste senior seuns veldatleet aangewys vir sy 1900 APE punte in die gewigstoot en diskus. Sy wen-afstand en nuwe rekord poging van 64,52m in die diskus vir seuns o.17 was volpunte werd.
Gerber is met sy prestasie in die diskus nou die wêreld se voorste atleet in dié item vir sy ouderdomsgroep.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.













